BYBELBAAK 182
Die een ding wat Johannes die Doper anders as enige ander voorgangerprofeet maak, trouens ook anders as enige-een ná hom, is die feit dat hy volgens Luk. 1:15 reeds van die moederskoot af met die Heilige Gees gevul was. [Jesus uiteraard uitgesluit – Hy is deur die Heilige Gees verwek (Matt. 1:20), maar ook: God het “Hom die Gees nie met mate” (Joh. 3:34) gegee.] Dit maak van Johannes die Doper ‘n enige en uitsonderlike spilfiguur in die galery van alle gelowiges deur die eeue. Vóór hom was dit nie moontlik om die Heilige Gees in jou te hê nie, net op jou. ‘n Onteenseglike bewys daarvan is toe Elisabet, Johannes die Doper se ma, die groet van Maria hoor, wat die kindjie in haar skoot laat opspring het, “en Elisabet is vervul met die Heilige Gees” (Luk. 1:41). Ons weet Jesus is die Doper met die Heilige Gees: “dit is Hy (= Jesus) wat met die Heilige Gees doop” (Joh. 1:33). MAAR die doping met die Heilige Gees in die Nuwe Testament gebeur altyd deur handoplegging. Die enigste met wie dit ánders was, is die dissipels, oor wie Jesus kort na sy opstanding geblaas het, “En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.” (Joh. 20:22). Dít het gebeur omdat die Heilige Gees nog nie uitgestort was nie (Hand. 1:4-5); daarmee saam spel Joh. 7:39 uit dat “die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie”. In Joh. 14:17 verduidelik Jesus aan hierdie spesifieke dissipels dat die Heilige Gees reeds by hulle bly, maar later “in julle sal wees”. Dit beteken egter geensins dat die Gees volgens geestelike protokol anders as deur handoplegging oorgedra word nie. Die geestelike meganisme waardeur die Heilige Gees ontvang word, is onteenseglik handoplegging (Hand. 8:17; 9:17; 19:6; 1Tim. 4:14; 2Tim. 1:6). Die enkeles met wie dit anders gebeur het, was as wondertekens opgerig in die tussen-in tydperk van Jesus se konsepsie en die uitstorting van die Heilige Gees. Die feit dat Elisabeth egter met die Heilige Gees vervul is deur Johannes se fasilitering (en uiteraard Jesus se teenwoordigheid), is ‘n Wonderbaarlike gebeurtenis, en is soortgelyk aan die gebeurtenis waar Johannes die Doper vir Jesus moes doop. Johannes protesteer, en sê: “Ek het nodig om deur U gedoop te word, en kom U na my toe?” (Matt. 3:14), en Jesus antwoord soos volg: “Let it be this way for now. It is right for us to do this. It carries out God’s holy plan.” (vers 15, NIRV). Die enkele voorbeelde van ander wyses waarop mense met die Heilige Gees gedoop is, hef egter nie die Bybel se protokol van prosedure op nie.
Dr. Tom Gouws