
“Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie …, maar om die woorde van die HERE te hoor. ” (Amos 8:11, OAV)
“Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan,” het Jesus in Mat 4:4 uitgespel. Ek is dikwels steeds verbaas oor hoeveel gelowiges wat op die oog af ‘n goeie verhouding met die Here het, as jy hulle vra wat God vir hulle sê, daar onmiddellik ‘n huiwering is – dis asof daar nie ‘n vryvloei van kommunikasie met God is nie. Ons sing graag: “And He walks with me and He talks with me”, maar helaas is dit dikwels nie waar van ons wandel met Hom nie. Ons worstel woorde uit die Bybel, en dit wat ons dink in die verleë gange van ons geesdimensie waai, is ons onseker of dit regtig Hy kan wees. Verder oorleef ons op boeke, cd’s, Radio Kansel, kerk. Ons kry omtrent alles van God af sekondêr.
As dit wat hierbo in Mat 4:4 die waarheid is, naamlik dat die geestelike mens net kan lewe op grond van die woorde wat uit God se mond kom, is die meeste van ons sekerlik geestelik anoreksies, want ons het ‘n baie, baie beperkte blootstelling aan dit wat uit God se mond kom VIR JOU persoonlik.
Weliswaar is baie van die dinge wat God sê kollektief van aard, met ander woorde van toepassing of belang vir alle gelowiges, maar daar is ‘n persoonlike stem VIR JOU. Ons verhouding met God is allereers persoonlik, nie kollektief nie.
Jesus spel dit uit in Joh 6:63: “die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe”. ‘n Paar verse later bely Simon Petrus: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.” (vers 68). Daarom is dit nie vreemd dat dit juis Petrus is (in Hand 5:20) wat die opdrag kry: “Gaan heen, staan en vertel in die tempel aan die volk al die woorde van hierdie lewe.”
In Joh 1 word verduidelik Wie hierdie Woord is in wie die woorde van lewe skuilhou, en dat in Hom die lewe is. In 1 Joh 1 word hierdie “Woord van die lewe” (1:1) verder gekwalifiseer: dit is geopenbaar (1:2); dit is gesien en gehoor (1:2 & 1:3); en op grond van hierdie tasbare ervaring en kommunikasie met die Woord en sy lewende woorde, NET OP GROND DAARVAN, kan gelowiges met mekaar gemeenskap hê (1:3)! Ons kom nie bymekaar as kerke of selgroepe of huisgemeentes om “die gemeenskap van die gelowiges” of “onderlinge byeenkomste” (Heb 10:25), te hê nie – op grond daarvan dat ons elkeen die lewende woorde uit die mond van God gehoor het en dit met mekaar deel, op grond daarvan het ons gemeenskap met mekaar.
Die mense in die kerk steek hul geestelike honger weg agter al die baie geestelike aktiwiteite waarmee hulle besig gehou word. Ten spyte van baie geestelike aktiwiteite is jy steeds morsdood van die honger. Om sy persoonlike stem VIR JOU te hoor, vandag (Heb 3:7, 15; 4:7), elke dag, is die grondslag van jou geestelike wandel.
- Sela: Maak hierdie beginsel baie deeglik vas. ‘n Verhouding met God beteken om Sy stem te hoor.
- Lees: Rut 1; Ps 112; Hand 22
- Memoriseer: Hand 22:14, wat ook waar is VAN JOU.
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Hoe hoor ek die stem van God?