Dag 1161

 

“Want baie is geroep, maar min uitverkies.”

(Matt. 22:14, OAV)

 

Ons is besig om te kyk na wat die “buitenste duisternis” in die Skrif beteken, dié frase waaroor daar so baie misverstand en teologiese verwarring bestaan.

In die gelykenis van die huweliksfees en –kleed wat in Matt. 22:1-14 weergegee word, gaan dit in die eerste deel oor die koning wat vir sy seun ‘n huweliksfees reël, en dan besluit die genooides om nie te kom nie. Hy stuur dan gesante uit om op die kruispaaie uit te gaan en almal wat hulle vind, uit te nooi. In die tweede gedeelte gaan dit oor een van hierdie genooides wat nie ‘n huwelikskleed aan het nie. Dis van hom en gelyksoortiges van wie in vers 13 gesê word: “Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.” Maar krities belangrik vir die verstaan van hierdie Skrif is vers 14, wat daarop volg: “Want baie is geroep, maar min uitverkies.”

Sommige lekkerbekvertalings, soos die Bible in Basic English en The Message, vertaal die vers nét uit ‘n eerstedimensieperspektief, of dan uit die oogpunt van die evangelie van redding:  

  • “For out of all to whom the good news has come, only a small number will get salvation.” (BBE)
  • “That’s what I mean when I say, ‘Many get invited; only a few make it.'” (MSG)

Dit is egter totaal misleidend. Soos uitvoerig verduidelik is in Manna Dag 513-517 oor wat die Calvinisme noem “Unconditional Election”, is uitverkiesing nie ‘n begrip wat enigsins in die eerste dimensie gebruik kan word nie. Die uitverkiesing het slegs met die Bruid te make, is in Manna Dag 518-520 verduidelik. Die uitverkorenes is ingeskryf in die boek van die lewe – daardie Boek se naam is Jesus Christus. Maar dis moontlik dat jou naam uit daardie boek uitgevee kan word (Op. 3:5). Dit het niks met redding te doen nie, alhoewel redding (= jou keuse) die voorvereiste is dat jy jou uitverkorenheid kon identifiseer as “a divinely implanted, sense of a purpose working through the ages” (Pred. 3:11, AMP).

Roeping word eenvoudig verduidelik in Rom. 8:28  – daar is persone “wat na sy voorneme geroep is”. Die begrip ‘voorneme’ is in Grieks die woordjie prothesis, wat onder andere beteken: “a setting forth of a thing, placing of it in view”, en kom van die wortelwoord wat letterlik beteken: om voor (die) tyd geposisioneer te word! God roep (Rom. 9:11; 1 Pet. 5:10), en die mens antwoord deur te kies (Deut. 30:19; Ps  119:173; Spr. 1:29 ). Duidelik kan hierdie roeping nét aan uitverkiesing gekoppel word as ‘n persoon op die roep(ing) antwoord! Die Bruid is “van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid, waartoe Hy julle geroep het deur ons evangelie om die heerlikheid ( = derde dimensie) van onse Here Jesus Christus te verkry.” (2 Thes. 2:13-14); die Bruid is dus “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader” (1 Pet. 1:2).

Baie is geroep, min uitverkies.

  • Sela: Verduidelik uitverkiesing aan iemand.
  • Lees: Ons begin die Bybel weer deurlees, nou met ‘n tematiese benadering: Ps. 148; Gen. 1-2; Efes.1
  • Memoriseer: 1:4 (let op die sinchronisasie met die lering!)
  • Delf dieper: Luister na die cd van Tom Gouws: Die Uitverkiesing: Jou woord verhul in Sy Woord