Dag 1180

 

“Verstaan dit tog, o Godvergeters …”

(Ps. 50:22, OAV)

 

Elia bied aan die Baälprofete ruim tyd om hul gode aan te roep. Daar lê egter ook ‘n stukkie strategie hierin – hoe langer die ure verbysleep, hoe groter word die angstigheid en de desperaatheid van die Baälprofete. Toe hul geestelike en fisiese weerstand tot die uiterste toe beproef is, begin Elia die posisie van die oorwinnaar inneem – ons lees daarvan in 1 Kon. 18:27-29: “En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos ‘n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het. En toe die middag verby was, het hulle begin raas tot op die tyd dat die spysoffer gebring word; maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie, en geen opmerksaamheid nie.”

As dit uiteindelik sý beurt is, gebruik die profeet die geleentheid om as ‘t ware “aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend (te) maak” (Efes. 3:10)! Elke eienskap van Baäl wat uit die openbare demonstrasie geblyk het, word aan die groot klok gehang; maar dit is nie net ‘n enumerasie van negatiewe eienskappe van Baäl nie – die teendeel daarvan word uiteindelik die proklamasie van Yahwe, die Lewende God! Ook aksentueer Elia met sy tergrede sekere opdragte van Yahwe wat die Baälaanbidders genegeer het. In teenstelling met byvoorbeeld die God van Israel wat nie sluimer of slaap nie (Ps. 121:4), word Baäl voorgehou as een wat dalk “slaap en moet wakker word”. Die aanpor om hulself te sny sodat daar meer bloedoffers kan kom (soos ons onlangs ook by Marikana gehad het met die mynstking en die opstel van mynwerkers teen die polisie), staan direk teenoor byvoorbeeld Deut. 14:1-2: “Julle is kinders van die HERE julle God; julle mag julle ter wille van ‘n dooie nie stukkend kerwe of ‘n kaalte tussen julle oë maak nie. Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God, en jou het die HERE uitverkies om sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is.”

Moet nie vergeet dat afgodsaanbidding volgens Moses se wet strafbaar is met die dood nie – Deut.13:12-18; 17:2-7 spel dit onomwonde uit. Dan verstaan jy duideliker dat Elia eintlik besig is om reeds aan die Baälprofete ‘n vonnis te voltrek. ‘n Mens dink onwillekeurig aan die Psalmdigter se uitspraak in Ps. 50:21-22, wat ewe seer ‘n taksering van die Baälprofete kan wees: “Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel. Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie.” Wat ‘n skrikwekkende woord is dit nie – ‘n Godvergeter.

Noag is bepaald  dié prototipe van iemand wat blóót gedoen het waarvoor God hom geroep het, en dáárdeur het hy “die wêreld veroordeel” (Heb. 11:7). Dít is die waarmerk van ware identiteit en outoriteit.

  • Sela: Loop jy in hierdie geestelik outoriteit?
  • Lees: 36; Matt. 14;
  • Memoriseer: 14:36 (‘n mooi tipologie van die krag van ‘n geestelke mantel!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Spiritual Warfare in the Third Dimension?