“God … weet alles”
(1 Joh. 3:20, OAV)
Verlede week het ons uit Ps. 50:21-22 daardie afgryslike woord “Godvergeters” geleer. Die begrip ‘vergeet’ en die komplement daarvan, ‘onthou’, is ’n kompletêre paar wat enorm vooropgestel is in die totale boodskap van die Bybel. Ons wil vir ’n wyle op die afdraaipaadjie gaan van hierdie belangrike begrippepaar, omdat dit vir ons veel sal openbaar van roeping, mantels en geestelike outoriteit. Daarby kan ons ook ’n paar kontensieuse sake aansny wat gekoppel word met onthou/vergeet.
Een van die grootste vertroostinge wat God Israel bied, word in Jes. 43:25 soos volg uitgespel: “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.” Die werkwoordfrase “dink aan” is eintlik verkeerd vertaal in Afrikaans; dit moet streng gesproke wees: “onthou” (die Hebreeuse werkwoord zâkar). [Uiteraard is dit die basis van die Nuwe-Testamentiese vergifnis wat in Jesus Christus aan die mensdom gebied word – Heb. 8:12; 10:17.]
Ons fokus egter nie nou op dié fondasiewaarheid van ons geloof , dié “heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde” (Efes. 1:6) nie, maar op die oënskoulike teenstrydigheid daarin vervat – hoe kan die alwetende God in sy oneindige kennis, verstand en wysheid ooit enigiets vergeet?
Omniscience (alwetendheid) word volgens die woordeboek soos volg gedefinieer: “the state of having total knowledge, the quality of knowing everything”. Die alwetendheid van God word deurgaans in die Bybel uitgespel – 1 Joh. 3:20 sê “God … weet alles”. Hy weet die fynste besonderhede van ons lewe, maar ook van almal, in die verlede, hede én toekoms! Hy weet selfs onbenullighede, soos wanneer ‘n swaeltjie swenk, of as jy enkele hare verloor in die stort (Matt. 10:29-30). Volgens Jes. 46:10 verkondig Hy “van die begin af … die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie”. Maar dis nie net wat fisies gebeur, wat Hy van weet nie – alle denke, drome, gedagtebespiegeling, weet Hy van, selfs voor dit in woorde omgesit word (Ps. 139:4). Hy deurgrond die oortuigings van die mens se hart. Selfs toe die mens bloot ‘n fetus was gedurende sy vormingstydperk, het God hom geken (Ps. 139:1-3 & 15-16). Salomo spel dit mooi uit in 1 Kon. 8:39: “U alleen ken die hart van al die mensekinders”. Inderdaad: “daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Heb. 4:13).
Dawid beskryf Hom deur te sê: “sy verstand is oneindig” (Ps. 147:5). Job 37:16 noem God tereg “die Volmaakte in kennis”!
- Sela: Hoe laat hierdie wesenseienskap van God jou as mens voel?
- Lees: 37-38; Matt. 15;
- Memoriseer: 15:8-9
- Delf dieper: Lees James D. Bales se boek The Biblical Doctrine of God