Dag 124

 

“Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in ‘n boek opgeteken word – met ‘n ystergriffel en lood – vir altyd in ‘n rots ingekap!” (Job 19:23-24, OAV)

Nou dat ons ‘n beter begrip het van WIE die Woord van God is, is dit ook belangrik om te besef dat alles, ALLES, die ganse geskiedenis, die hede en die toekoms, daarin vervat is. Omdat ons die Bybel sintagmaties lees, met ander woorde soos ‘n mens ‘n boek normaalweg lees, woord vir woord, sin vir sin, paragraaf vir paragraaf, ensovoorts, kan dit vir party mense vreemd wees dat die Woord ook vra om paradigmaties gelees te word. Sodoende kom meer en meer van die verborgenhede van alles wat in Hom en uit Hom is, tot openbaring.

‘n Eenvoudige definisie van die begrip ‘paradigmaties’ is dat klanke, woorddele, woorde, frases, en so meer, los van die onmiddellike kontekstuele verband gelees moet word. Byvoorbeeld: Ps 42:6 lui soos volg: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof—die verlossing van sy aangesig!” ‘n Paar verse verder, vers 11, is duidelik ‘n parallel met hierdie vers: “Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof—die verlossing van my aangesig en my God!” As jy raaksien dat die verse amper woordeliks dieselfde is, moet jy besef dat vers 6 en vers 11 iets baie belangrik wil benadruk, en dat daar derhalwe groot klem geplaas word op dit wat verskil: “die verlossing van sy aangesig” teenoor “die verlossing van my aangesig”. Om so iets raak te lees, is een manier van paradigmaties lees. 

Op soortgelyke wyse kan jy ook byvoorbeeld ook patrone begin uitlees, selfs los van die konteks waarin dit voorkom. Sulke patrone word in eietydse literatuurteorie kodes genoem. So kan jy byvoorbeeld in Jes 53 en Ps 22 duidelike Messias-kodes kry wat woordeliks korrespondeer met dit wat met Jesus die Messias gebeur het.  

Nog ‘n voorbeeld: dwarsdeur die Skrif kan jy die patroon uitlees van twee tipes vroue wat teenoor mekaar gestel word: Hulle natuur word duidelik gekontrasteer in Paulus se ‘uitlegging’ van hulle simboliese betekenis in Gal 4:21-31, waar hy Hagar en Sarah gebruik om die “vry vrou” en die “slavin” te kontrasteer en daarmee ook die ou en die nuwe verbond te illustreer. Maar die patroon is ook duidelik te eien in Ragel en Lea, Abigail en Migal, Ester en Vasti; ook die “vreemde vrou” van Spr 7 teenoor die Spr 31-vrou. En later in Openbaring die hoer van Babilon teenoor die Bruid van die Nuwe Jerusalem. As jy die Bybel só begin lees, kom ‘n klomp paradigmatiese betekenisse na vore wat jy nie op die tradisionele manier van die Woord bestudeer sou kon uitlees nie!

En Job het al geweet: duidelik is al die woorde van die Boek in die Rots gegraveer!

  • Sela: Kry ‘n eie voorbeeld van hoe jy iets in die Skrif paradigmaties kan lees.
  • Lees: 1 Sam 9; Ps 127 & 128 ; Luk 6
  • Memoriseer:  Ps 127:1-2