Dag 125

 

“En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.” (Joh 21:25, OAV)

Hierdie Skrif waarmee die boek Johannes afsluit, is net so belangrik soos die eerste sin waarmee die Bybelboek begin: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” (Joh 1:1). As Joh 1:3 verder sê dat alle dinge uit Hom ontstaan het, en Kol 1:17 sê “in Hom hou alle dinge stand”, beteken dit dat ALLE DINGE ook in die Bybel geïnskribeer is. As Kol 1:16 dan uitspel dat alle dinge nie net deur Hom geskep is nie, maar ook “tot Hom”, en dat Hy voorts ook “alle dinge dra” (Heb 1:3), is dit duidelik dat dit alles nie in een boek opgeteken kan word nie. Om al die oneindigheid van die geskape heelal, waarvan die hoogste hemel Hom nie eens kan bevat nie (2 Kron 2:6), in een boek te wil oorvertel, is op die oog af heeltemal onmoontlik. As Hand 17:28 sê: “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons”, dan moet alle mense van alle eeue se geskiedenis in Hom opgeteken wees, ook myne en joune, so ook die geskiedenis van die hele wêreld, alles, selfs die onbenullige detail, soos hoeveel hare jy vandag op jou kop het (Mat 10:30), die verskillende stadia van jou vorming as fetus (Ps 139:16). Alles is opgeteken, selfs dit wat die hemele vertel, die uitspansel verkondig, die dag wat dinge bykans onhoorbaar oorvertel aan die nag (Ps 19: 2-4)! Selfs die Skrif wat my teëparty, die Satan, teen my inbring, is opgeteken (Job 31:35). Die “plek van vertering en die dood sê: Met ons ore het ons die gerug daarvan gehoor” (Job 28:22). Elke sug van die skepping en elke pyn van baringsnood, elke uitroep van die aarde (Rom 8: 22) is opgeskryf. So ook elke gedagte van die hart (Deut 15:9; Hand 8:22), elke woord alvorens dit nog op my tong is (Ps 139:4). Maar ook: Hy “bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name” (Ps 147:4)! Die dermiljoene legioene engele, ook alles wat “sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte” (Kol 1:16), “Hy roep hulle almal by die naam …daar word nie een gemis nie” (Jes 40:26)!

Johannes is natuurlik reg: as dit alles een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self die geskrewe boeke nie kon bevat nie, dit sou te veel wees. Daarom moet jy verstaan: as dit alles wel in een boek beskryf word, is daar veel meer inligting gekodeer as wat ek en jy so op ‘n geestelike drafstap ooit kan vermoed, en dis op wyses gedoen wat ons bes moontlik nog nie eens ontdek het nie. 

Maar dis alles onteenseglik dáár, in die Boek. Daarom, soos Jes 34:16 dit sê: “Soek in die boek van die Here en lees!”

  • Sela: Vra God om vergifnis dat jy so don’t care met hierdie ongelooflike Boek omgegaan het.
  • Lees: 1 Sam 10; Ps 129, 130 & 131 ; Luk 7
  • Memoriseer:  Luk 7:28
  • Vir dieper delf:  Lees Dag 18 in A.W. Tozer se boek The pursuit of God.