Dag 1308-1309

 

“Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God …”

(Heb. 4:9, OAV)

Die enigste manier waarop die aan duister oorgelewerde mens RUS kan vind in hierdie doderyk wat ons aarde noem, is as hy uit dié bodemlose put kan ascend, het ons in die vorige Manna gesê. Om te praat van hierdie posisie van rus moet ‘n mens noodwendig praat oor die Sabbat.

Ons lees in Gen. 2:2-3: “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.” Toe die wet gegee word aan die volk, het die gedenking van hierdie dag ‘n spesiale plek verkry as die vierde gebod: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie—jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Eks. 20: 8-11).

Ook het God ekstra Sabbatte geinstitusionaliseer, ‘n Sabbatsjaar afgekondig en ‘n jaar van jubilee ingestel, wat die prinsipe van rus vir die land en die voorsiening vir wat verloor is, geïmpliseer het (Gen. 7:4, & 10; Gen. 8:10-12; Gen. 29:27-28 & 30; Eks. 16:1-30; Neh. 9:13-14). Die hou van die Sabbat is deur byvoorbeeld Jesaja (58:13-14) as absolute prioriteit voorgehou, en die nié-nakoming daarvan was selfs strafbaar met die dood (Num. 15:32-36).

Jesus het egter die perversie van die sabbat vanweë godsdienstige oorwegings ernstig teengestaan en die aandag deurgaans gevestig daarop dat “die sabbat gemaak (is) vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie” (Mark. 2:27).

Fausset se Bible Dictionary maak hierdie raak taksering oor die sabbat: “The Sabbath reminds man he is made in the image of God.” Miskien verklaar dit die kerkvader Philo van Alexandrië se uitspraak waar hy die sabbat noem “the imaging forth of the first beginning”. Die sabbat is dus ‘n posisie van rus in “in die begin”. Anders as wat ‘n mens sou verwag, is die insetfrase van die ou verbond (Gen. 1:1) én die insetfrase van die nuwe verbond (Joh. 1:1): “In die begin …” geensins ‘n tydsaanduiding nie, maar verwys dit na “die Hoof” (Rosh), Jesus!

Rus, of sabbat, is dus ‘n spesifieke posisie in Jesus Christus! Die Mirror Bible bied Heb. 8:4-9 derhalwe soos volg aan: “If Joshua, who led the new generation of Israel out of the wilderness, had succeeded in leading them into the rest that God intended, David would not so many years later have referred to yet another day. The conclusion is clear: the original rest is still in place for God’s people.” God se bedoeling met die Sabbat was dus nie soseer ‘n wettiese nakoming van ‘n spesifieke dag nie, maar ‘n posisie van “being” of rus waarin die volheid van die voltooide verlossing- en versoeningswerk van Jesus Christus manifesteer. In sy inskrywing by Heb. 4:8 maak die vertaler Francois du Toit in die Mirror Bible dié insiggewende opmerking: “This moment still remains as an open invitation to mankind to enter into their rest: the living blueprint of their design.”

Heb. 4:9 stel dit eksplisiet: “Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God …” Hierdie insig van die skrywer van die Hebreërboek is die kulminasie van ‘n uitgebreide verduideliking vanaf vers 14 in die vorige hoofstuk: “Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou …” Die woordjie “deelgenote”, oftewel “partners, associates, companions”, het ander kwalifiserings ook – diégene wat só genoem word, is óók deelgenote van die Heilige Gees (Heb. 6:4), óók seuns van God (Heb. 12:8), én dan óók: deelgenote van die hemelse roeping (Heb. 3:1)! Maar die hoogtepunt van hierdie deelgenootskap is dat hulle ook deelgenote van die Christus word!

‘n Voorwaarde vir hierdie deelgenootskap is dat jy van die begin af tot die voleindiging onwrikbaar vashou, of soos die ACV dit raak sê: “keep in possession the primacy of the essence, steadfast until the end”. Maar presies waaraan moet vasgehou word? Jy moet vashou aan die substance, “that which is the basis” (The Complete WordStudy Dictionary), en vers 15 spel dit onomwonde uit: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.” Die geskiedenis van Israel in die wildernis word dan in vers 16 en 17 voorgehou as voorbeeld van persone wat goed begin het, maar nie daarin geslaag het om klaar te maak nie, omdat hulle in gebreke gebly het om vandag in gehoorsaamheid te loop. Vers 18 bring dan die twee konsepte by mekaar uit – jy sal nie die voleindiging bereik en derhalwe nie in die sabbatsrus van God kan ingaan sy shalom of dag van vrede of dan sy vrederyk as jy nie VANDAG aan sy stem gehoorsaam is nie!

Dus: vandag is ‘n teleskopering van die einde as jy (vandag) gehoorsaam is, derhalwe is vandag as jy gehoorsaam is, die Sabbat of voleindiging. Dit is omdat God nét in vandag is.

Met dít as agtergrond word Heb. 4:1-11 absoluut duidelik: “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie. Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is. Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie.  Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.”

As mens Heb. 3 en 4 as riglyn vat, dan betree die geroepe mens God se rus “vandag”, of dit nou Dinsdag of Dingaansdag is! Die chronostyd word met ander woorde opgehef wanneer mens hierdie rus betree, en die meganisme om dit te laat gebeur, is gehoorsaamheid vandag.

Onthou waarmee ons begin het met hierdie Manna – die enigste manier waarop die aan duister oorgelewerde mens RUS kan vind in hierdie doderyk wat ons aarde noem, is as hy uit dié bodemlose put kan ascend, Dit gebeur nét as hy vandag gehoorsaam is aan die stem van die Here. Dít is die kern van jou vasstaan in jou posisie in Christus, die Dag van Shalom, die Hoof.

  • Sela: Is jý gehoorsaam aan die stem van die Here?
  • Lees: 2 Sam. 11-16
  • Memoriseer: 2 Sam. 15:25 (probeer “sy woning” hier uitpluis in die lig van die lering hierbo)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Hoe hoor ek die stem van die Here?