
“hulle soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie” (Fil 2:21, OAV)
Soms is een uitvloeisel van die Faith movement-benadering (waaroor ons in die vorige manna gepraat het) dat mense die Christelike geloof aanneem omdat daar ‘n baie sterk klem is op jou behoeftes en hoe die evangelie jou kan dien. Die evangelie van redding word aan jou gebied uit ‘n totale subjektiewe klem van wat dit jou kan laat ontvang: jou sondes word vergewe, jou skuld word weggeneem, jy verkry God se beloftes, jy kry die ewige lewe, jy kry beskerming, jy kry gawes, jy dit, jy dat … Dit is duidelik dat Jesus in hierdie verbruikerskultuurdenke ‘n wonderproduk is wat jy sluk … en siedaar!
Alhoewel al hierdie dinge bes moontlik waar is, val die klem heeltemal verkeerd. Om na die Koninkryk van God te kom, beteken nie om enigiets te kry nie – dit beteken dat jy alles verloor: “Wie agter My aan wil kom, moet himself verloën …” (Mark 8:34). En in terme van materiële gewin, is die woorde van Jesus baie duidelik in Luk 14:33: “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.” Paulus stel dit onomwonde: “Laat niemand sy eie voordeel soek nie …” (1 Kor 10:24). Ongelukkig is dit so dat baie mense dink dat godsaligheid winsgewend is (1 Tim 6:5), wat deur hebsug na die Koninkryk van God kom (2 Pet 2:3), en dikwels word hierdie “hart geoefen in hebsug” (2 Pet 2:14) aan die altaar van geloof gebind.
Ons is partykeer so desperaat dat mense die Here Jesus aanneem, dat ons hulle net die byvoordele van die Jesus-polis verkwansel. Maar mense wat só tot geloof kom, “soek almal hul eie belange, nie dié van Christus Jesus nie” (Fil 2:21) en derhalwe: “sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik” (Rom 16:18). Christus is vir hulle “vuil wins” (Tit 1:11). Hulle het in der waarheid “geen deel of lot” in Christus nie, want die “hart is nie reg voor God nie” (Hand 8:21).
In Open 18: 8-13 word al die kommoditeite gelys waarmee die mens “gevang” word om in die Koninkryk van God in te kom en wat hy dink hy daar sal baat, maar wat uiteindelik ‘n vangstrik vir sy siel word, en uiteindelik word daardie “mensesiele” saam met die valse kommoditeite verhandel, want Open 18:14 spel dit uit: “En die vrugte wat jou siel begeer, het van jou gewyk, en al die blinkende en die skitterende dinge het van jou gewyk, en jy sal dit nooit weer kry nie.”
Soos Paulus (in Fil 3:8) moet jy alles skade ag en prysgee en as drek beskou om Christus as wins te verkry. Hy is die enigste wins. Maar in Hom is alles.
- Sela: Maak seker dat jy nie verlok is na die Koninkryk van God en dit dien op grond van die voordele wat dit vir jou kan inhou nie.
- Lees: 2 Sam 15; Spr 19; Heb 13
- Memoriseer: Heb 13:8
- Vir dieper delf: The Gravedigger File: Papers on the Subversion of the Modern Church
deur OS Guinness.