Dag 1687-1689

 

“vernuftig in allerhande wysheid

en in besit van kennis en insig in wetenskap”

(Dan.1:4, OAV)

Ons delf tans in “dit (wat) lankal daar was in die ou tyd wat voor ons gewees het” (Pred. 1:10), dit wil sê voor ons fisies as vleeslike mens gestalte gekry het.

As deel van die ontvouing van Op. 8:10, waarmee ons tans besig is, en die “groot ster wat soos ‘n fakkel brand” wat “uit die hemel geval” het “op ‘n derde van die riviere en op die waterfonteine”, het ons in die vorige Manna die diepgang van die woordjie ‘bitter’ ondersoek. Hierdie kataklismiese gebeurtenis in die gees, wat diegene ervaar wat uit Egipte op pad is na hul beloofde land, ervaar dit in die woestyn of wildernis. Dis ‘n terugroep na die begeertes van die vlees.

Daarmee saam, as die groot ster val, word ‘n derde van alle sielsdimensieriviere, die fonteine van verbeeldings, vleeslike en natuurlike kennis, en seë van wêreldse wysheid met bitterheid besmet. As die ongeregenereerde, natuurlike mens met die ontsagwekkende krag van Jesus en sy Christus geïmpakteer word, het dit ‘n aardskuddende effek, wat die mens dikwels met verlies, pyn, verontwaardiging, skuldgevoel, vrees, onsekerheid, en ander soortgelyke negatiewe ervaringe laat. Om alle bitterheid uit die pelgrim onderweg na die beloofde land te haal, word hy/sy dikwels in situasies gebring wat bitterheid laat bot ín hom/haar, sodat die narratief waarmee ons verlede week afgesluit het, enigsins in werking kan tree.

Die Ou Testament sluit af met die boek Maleági, waar die wonderbaarlike belofte van die Son van Geregtigheid gegee word: “Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.” (Mal. 4:2). Maar – die Nuwe Testament begin nie met die Son van Geregtigheid nie; die wyse manne uit die Ooste stap in die strate van Jerusalem op soek na die Wonderteken van die belofte van die Son (Seun) van Geregtigheid (1 Kor. 1:30). Dan lees ons in Matt. 2:9-10 – “En kyk, die ster wat hulle in die Ooste gesien het, gaan voor hulle uit totdat hy kom en bly staan bo-oor die plek waar die Kindjie was. En toe hulle die ster sien, het hulle hul met baie groot blydskap verheug.” In vers 2 vra hulle: “Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien …” Let op – ‘n ster, nie ‘n son nie! God laat bonatuurlik iets nuuts gestalte kry, iets vol heerlikheid, soos 1Kor. 15:41 dit mooi stel: “Anders is die heerlikheid van die son en anders die heerlikheid van die maan en anders die heerlikheid van die sterre …”

Hierdie grootse gebeurtenis was ‘n natuurlike bonatuurlike happening wat gedui het op ‘n kosmiese uitspeel van iets van baie groot belang wat op die aarde gebeur, maar met sekere hemelse korrespondensie. Dit laat mens ‘n bietjie dink aan wat Jesus vertel het oor die oorstelpte blydskap wat die engele van God in die hemele het oor een sondaar op aarde wat hom bekeer (Luk. 15:10).

Dis interessant dat die Afrikaanse vertalings hierdie sterrekykers spesifiek wyse manne uit die Ooste noem. Die woordjie in Grieks daarvoor is magos, wat Thayer verklaar as “the name given by the Babylonians (Chaldeans), Medes, Persians, and others, to the wise men, teachers, priests, physicians, astrologers, seers, interpreters of dreams, augers, soothsayers, sorcerers etc”, of “an oriental wise man (astrologer)”, selfs “false prophet and sorcerer”. (Laasgenoemde word só vertaal in byvoorbeeld Hand. 13:6 & 8.) In hierdie stadium weet ons dat die Ooste hier steeds tipologies verklaar kan word as die voortyd. Hier is dus manne wat ‘n bepaalde bemagtiging het deur die kennis van die voortyd, of wat Deut. 33:15 noem: “die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd”. Soms het hierdie voortydkennis die aanskyn van die misterieë waarmee alchemiste en magiërs werk, en wat Christene soms met goeie rede teenstaan, sonder dat hulle begryp dat dit deel kan wees van die ontsluitende heerlikheid van die geheimenisse (waarvan byvoorbeeld 1Kor. 13:2 praat). Paulus noem dit in Rom. 16:25 “die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is”. In Kol. 2:2 is die kensketsing daarvan: “alle rykdom van die volle versekerdheid van insig, … die verborgenheid … van God en die Vader en van Christus”.

Die feit dat misterieë, mitologieë, metafisika, alchemie, mistiek, en soms selfs pleinweg abrakadabra, die onbekende verken en soms van die waarhede daarvan kleinkry, beteken nie dit is noodwendig verdag of demonies nie; dit is bloot verkennings na verhulde waarhede en wetmatighede deur ‘n verskeidenheid metodes, wetenskaplik of pseudowetenskaplik, wat ‘n ander  manier van dink in die ontdekking van verborgenhede ontgin. Ons vertaal die onbekende. Ten grondslag daarvan lê ten diepste die ontwikkeling van die menslike bewussyn se postmoderne vraag na die ontvouende God. Hierdie deurtastinge van die onkenbare is dikwels maar bloot ‘n kartering van bewussyn. Baie van die denk- en ander metodes wat ingespan word, is nie noodwendig verifieerbaar en selfkorrigerend soos ‘n mens van ‘n wetenskaplike proses verwag nie. Ek glo egter dat Wols se uitspraak in hierdie verband ‘n belangrike neerslagpunt vir die proses (en nie noodwendig die produk nie) is van die soeke na waarheid:

the elusive penetrates everything

you must know that everything rhymes

Dit is Breyten Breytenbach wat in sy boek Boek so mooi formuleer het: ons gaan soek sonder om te weet waarna; en ons vind sonder dat ons weet wat ons gevind het. In sy digbundel troglodiet, in die gedig ‘onsuiwer wiskunde’, eindig die digter Tom Gouws met die volgende verdigting:

al is ons empiries presies, bly ons matematies dom.

hoe héél ons Hom probeer bedink, ons dink te klein

om die verganklike tot die onverweerbare te jel.

ons besit bloot tydelik deur te benoem en te tel.

 

Dit beteken egter hoegenaamd nie dat alle dinge wat uit vreemde godsdienste en die okkultiese en geheime wêreld aangebied word, voor die voet aanvaarbaar en noodwendig goed te praat is nie. Hand. 19:19 vertel byvoorbeeld hoe ná die seuns van Skeva probeer het om duiwels uit te dryf, dinge lelik skeefgeloop het, en dat “verskeie van die wat met towery omgegaan het, het die boeke bymekaargebring en voor almal verbrand”. Dit dui op ‘n onderskeiding van die geeste wat uitgeoefen is, en dat die bronne van hierdie verborge kennis onaanvaarbaar bevind is.

Oorlewering het aan ons vertel dat dit net drie wyse manne uit die Ooste was wat na Jesus kom soek het, maar dit is glád nie wat die evangelies daaroor sê nie! Hierdie grootse gebeurtenis in die hemele en op aarde moes bepaald meer as 30 wyse manne geroer het, miskien eerder 300, perdalks selfs 3000, by wyse van spreke. Hierdie bespiegeling is bloot simbolies, want die getal 3, 30, 300, 3000, en so meer, is almal heenwysings na die “multiplicative” (BDB) aard van geestelike volwassenheid, die volvoering van “die volheid van sy grootheid” (Ps. 150:2), die “volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Ef. 4:13). Hierdie wyse manne vind ‘n prototipe in die tipe wysheid wat die Levitiese priester gehad het (Num. 4:30), Josef ook (Gen. 41:46), en Dawid (2Sam. 5:4), asook Jesus (Luk. 3:23). Weliswaar was daar nie net drie enkele wyse manne wat ongesiens in die stad rondgesluip het nie! Duidelik moes daar so ‘n toeloop van manne gewees het, wat bes moontlik nes die vriende van Daniël was: “aan wie geen enkele liggaamsgebrek was nie, maar wat mooi van aansien was en vernuftig in allerhande wysheid en in besit van kennis en insig in wetenskap, en wat bekwaam was” (Dan. 1:4). Ons lees in Matt. 2:3 dat nié net koning Herodes omgekrap was oor die nuus van die geboorte van Jesus nie – die hele Jerusalem (was) saam met hom (ontsteld)”.

Hierdie wyse manne is tipologies van die invloei van die “menigvuldige wysheid van God” (Ef. 3:10) in die hemelse stad Jerusalem (Heb. 12:22), daar waar as ‘n eerste beweging van hierdie skouspel reeds vroeër ‘n engelekoor op die ope velde sonder aankondiging opgetree het (Luk. 2:13-14) en waarvan die skaapwagters met oorgawe kom vertel het (Luk. 2:8). Die skaapwagters het kom getuig van die Lam van God (Joh. 1:36) wat gebore is! ‘n Mens wonder tog hoe presies die engeleskouspel gebeur het, want engele is onteenseglik geeste (Heb. 1:4), dus is hulle per definisie onsienlik. Hulle het bes moontlik getransmuteer, en sodoende kon die veldherders hulle onderskei, net soos die dienskneg van Elísa wie se geestelike oë geopen is om die geestelike realm te kan sien (2 Kon. 6:17).

Besef asseblief – dit was nie Jode wat agter die ster in die stad aangekom het nie; dit was mense uit die Ooste, tradisioneel dan diegene wat dikwels summier vanweë hul misterieuse geloofservaringe en esoteriese kennis met groot agterdog bejeen word. Nou word húlle die onderskeidende navolgers van die kwintessens van Wysheid wat deur die verskyning van hierdie Betelehemster gesimboliseer word.

Vra jouself dan onmiddellik af – hoekom en waarom het hulle die koms van die Messias geassosieer met die koms van ‘n ster? Dis eintlik geweldig random. Bedink dit vir ‘n wyle.

Die antwoord op hierdie geheimenis lê in ‘n obskure optekening van ‘n profesie in die pentateug, spesifiek hoofstuk 24 van die boek Numeri, en wel verse 15-19: “Toe het hy sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek. Die hoorder van die woorde van God spreek, en hy wat die wetenskap van die Allerhoogste ken, wat die gesigte van die Almagtige sien wat neerval en geopende oë het. Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ‘n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ‘n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver. Ook sal Edom ‘n besitting wees; en Seïr, sy vyande, sal ‘n besitting wees, maar Israel neem toe in krag. En laat daar een uit Jakob heers en die vrygeraaktes uit die stede vernietig.”

Hierdie profesie, soos trouens alle profesieë, kan geskenskets word deur Ps. 78:2 se uitspraak: “Ek wil my mond open met ‘n spreuk, raaisels uit die voortyd laat stroom.” As Asaf in vers 1 sê: “My volk, luister na my onderrig; neig julle oor tot die woorde van my mond.”, is dit geweldig belangrik om te besef dat die woordjie woord hierin ’ēmer is, wat ook transgelitereer in Grieks op rhema dui. Dít wat Asaf uit die voortyd laat stroom, is letterlik die verbindingstroom of sinergie van die interaksie tussen die hemele en die aarde. Nie vreemd nie dan dat Asaf se naam in Hebreeus beteken: “collector” (Strong). Hy word ‘n Ou-Testamentiese prototipe van die profetiese stroom wat al die woorde van God versamel en in die Gees “stream”, om ‘n eietydse anachronistiese term te gebruik. Hy soek, voeg byeen, en skep ‘n kragveld van woorde, letterlik ‘n interaktiewe boek van die lewe, of ‘n leer van woorde (soos Jakob s’n – Gen. 28:12) tussen hemel en aarde, waarbinne die boodskappers van God beweeg. Hierdie is ‘n baie kragtige beeld van die “kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!” (Ps. 103:20). Die volgende vers, vers 21, sê: “Bless ye the LORD, all ye his hosts; ye ministers of his, that do his pleasure.

In die volgende Manna sal ons hierdie geheimenis verder ontsluit.

 

  • Sela: Wat is die Nuwe-Testamentiese ekwivalent van “raaisels” (Ps. 78:2)?
  • Lees: 31-34; Jos. 1-5
  • Memoriseer: 32:1 & 7 (hoe Goddelik is hierdie sinchronisasie nie!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: ‘n Weermag van woorde