Dag 201

“En Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel.”

(1 Sam 2:35, OAV)

 

Ons het in Dag 27 en 28 reeds effens stilgestaan by die hoëpriester en hoe dit ons as Nuwe-Testamentiese gelowiges prototipies klee. Ons het ook op verskeie plekke uitgegaan van die veronderstelling dat daar met die wisseling van die Ou en die Nuwe verbond ‘n verwisseling van priesterskap is, soos Heb 7:12 dit uitspel.

In die Ou Verbond het God uit spesifieke groep priesters gekies. Reeds voor die Wet gegee is aan Israel (wat onder andere die priesterorde definieer en hul werk uitspel), was daar priesters wat diens aan God gedoen het (Ex 19:22 & 24). In Num 3:9-12 word die priesterdom onder die bedeling van die Wet se roeping uitgespel: “En jy moet die Leviete aan Aäron en sy seuns gee; hulle is heeltemal aan hom gegee uit die kinders van Israel. Maar Aäron en sy seuns moet jy aanstel, dat hulle hul priesteramp kan waarneem; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Kyk, Ek self het die Leviete geneem onder die kinders van Israel uit in die plek van al die eersgeborenes wat die moederskoot open, uit die kinders van Israel, dat die Leviete myne kan wees.” Daar was dus duidelik ‘n priesterorde wat offisieel tussen God en mens bedien het.

Maar in 1 Sam 2:35, soos ons dit hierbo aangehaal het, profeteer God dat Hy vir Hom ‘n ander priesterorde sal opwek, hulle wat dit nie net in naam is nie, maar wat sal doen soos dit in SY hart en siel is. In Jes 66:21 profeteer God voorts dat Hy selfs uit die Gentiles priesters sal maak, en in Jer  31:31-34 word die nuwe verbond wat híérdie priesters sal bedien, uitgespel: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”

In die Nuwe Verbond is elke wedergeborene dus geroep om ‘n priester te wees. 1 Pet 2:9 stel dit só: “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig …” – wat dus die onderskeid tussen “clergy” en “laity” totaal skrap.

 

 

  • Sela: Maak dit vas voor die Here dat jy ‘n priester van die Lewende God is.
  • Lees: 2 Kon 14;  Jer 15; 1 Kor 14
  • Memoriseer: 1 Kor 14:26
  • Vir dieper delf: Lees David R. High se boek: Kings and priests.