Dag 203

“En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.”

 (Mat 9:36, OAV)

In die laaste drie leringe het ons stilgestaan by die vals onderskeid tussen die sogenaamde “clergy” en die “laity” in die gemeente, en uitgewys dat die elke wedergebore persoon ‘n priester is en dat hierdie priesterdom gesamentlik die Liggaam vorm. Hierdie Liggaam – onder leiding van Christus die Hoof (=Kop, Efes 5:23) – is as geheel verantwoordelik om mekaar te bedien. Sáám terwyl ons in liefde die waarheid betrag, groei ons in alles op in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus (Efes 4:15).

In 1 Kor 12:14-21 spel Paulus hierdie bewussyn en afhanklikheid van die verskillende lede aan die Liggaam as ‘n organiese geheel duidelik uit: “Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.”

Dit beteken uiteraard nie dat die gemeente sonder direktiewe leierskap funksioneer nie. Binne hierdie diversiteit van die Liggaam, is daar ook ‘n individuele roeping. Daarom word daar ‘n paar verse in vers 27 verder uitgespel: “Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.” Die woordjie “afsonderlik” beteken in Grieks “a part assigned to one”, jou uitgemete deel, jou roeping. Direk daarna, in vers 28, dui Paulus aan dat daar ‘n gesagsorde hierbinne bestaan: “En God het sommige in die gemeente gestel: in die eerste plek apostels, ten tweede profete, ten derde leraars, daarna kragte, daarna genadegawes van gesondmaking, helpers, regeringe, allerhande tale.” Daar is dus duidelik in die gemeente “voorgangers” (Heb 13:17), maar dis ‘n posisie en roeping deur God gesanksioneer, en nie deur teologiese opleiding nie. 1 Pet 5:2-3 noem hulle herders oor die gemeente: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde.”

(Ons gaan hierdie outoriteitstrukture later volledig bespreek as ons by die reukofferaltaar gaan stilstaan, want dit word daardeur tipologies voorgestel. )

Ten spyte van die gestruktureerde kerk se aangewese leierskap, is die skape helaas herderloos, want die ware Goddelik gesanksioneerde herderskap funksioneer nie.

 

  • Sela: Probeer Jesus se gesprek met Simon Petrus in Joh 21:15-17 in hierdie lig verstaan.
  • Lees: 2 Kon 16;  Jer 17;
  • Memoriseer: Jer 17:5 & 9.
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: “Maak seker jy is deel van die Liggaam van Christus”.