“elkeen wat die wil van God doen, dié is my … moeder”
(Mark 3:34, OAV)
‘n Voorlaaste voorbeeld om Jesus se poging om die heersende ideologie van die vrou as second sex (om ‘n term van Simone de Beauvoir te leen) te verander, is die vreemde gebeurtenis wat in Luk 11:27 weergegee word. In die geheel van al die belangrike goed wat Jesus gesê en gedoen het (Joh 21:25), is hierdie losstaande gebeurtenis wat opgeteken is eintlik belaglik, en juis dáárom van groot betekenis: “En terwyl Hy dit spreek, het ‘n vrou uit die skare haar stem verhef en vir Hom gesê: Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het.”
‘n Mens kan jou die dramatiese situasie indink. ‘n Skare mense het hul versamel rondom die jong Jood wat beweer dat Hy die Messias is. Hy is besig om hul in die openbaar profound openbarende waarhede te leer, ‘n nuwe geestelike tongval wat hul nog nooit vantevore gehoor het nie. Inderdaad: ‘n Taal wat ek nie geken het nie, het ek gehoor … (Ps 81:5).
Bes moontlik oorweldig deur die grootheid van die oomblik, maar ook meegesleur deur Jesus se inklusiewe teologie, verbreek ‘n vrou die sosiale taboe om haar stem in die openbaar te laat hoor, en sy roep spontaan uit die gehoor. Wat haar “oortreding” enigsins aanvaarbaar maak vir die manlike toehoorders is dat sy eintlik haarself op haar plek sit – haar opmerking bevestig bloot eintlik net die Joodse beskouing dat vroue se enigste aanspraak op ‘n plekkie in die son hul status as dienaars vir hul mans en moeders vir hul mans se kinders is.
Maar dink vir ‘n oomblik daaroor: Wat anders kon die vrou sê? Volgens die Joodse wet en oorlewering was die vrou geskep vir die man se plesier, sy was sy besitting en moes sy kinders dra. Trouens, hieroor was die Joodse wet adamant (!): sy het haar redding gevind in die geboorte van haar man se seuns – die penis is dié teken van magsvertoon. As ‘n vrou dan moet roem, roem daarin: Salig is die skoot wat U gedra het, en die borste wat U gesoog het.
Hierop het Jesus ‘n baie sobere, regstellende antwoord – “En Hy sê: Ja, maar salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.” (Luk 11:28). Hy kraak nie af wat sy sê en maak haar in die openbaar belaglik nie, maar bevestig die basisbetekenis van haar stelling. Hy het immers geweet sy moeder Maria is “geseënd … onder die vroue” (Luk 1:28), en “geseënd is die vrug van (haar) skoot!” (Luk 1:42).
Maar dan plaas Hy dit in groter reliëf, naamlik dat dit vir ‘n vrou belangriker is om in lyn te kom met God se Woord en gehoorsaam te wees aan Hom. Dit reflekteer ook grootliks wat Hy elders gesê het toe sy moeder en broers in die skare aan Hom uitgewys is: “En Hy kyk rond na die wat rondom Hom sit, en sê: Dáár is my moeder en my broers! Want elkeen wat die wil van God doen, dié is my broer en my suster en moeder.” (Mark 3:33-34).
Maar daar is ook ‘n ander dikwels ongesiene aspek aan die vrou wat uit die gehoor vir Maria geprys het. Dit was ‘n Joodse segwyse om die moeder van ‘n opsienbarende man te prys omdat sy hom gebaar het. Die klem het egter op hom en nie haar nie, geval. Maar dan het hulle dit ook as ‘n vorm van vervloeking gebruik: “cursed be the paps that suckled him”. Dié vrou moes geweet het die Jode Jesus en Maria dikwels vervloek het deur te sê: “Mary hangs in the shades by the fibres of her paps” (T. Hieros. Chagiga, fol. 77.4. & Sanhedrin, fol. 23.3). In dié lig maak dit haar uitspraak die besonder dapper stem van vrou wat die teendeel in die openbaar proklameer. Jesus se siening van vroue het begin deursuur en aan die vrou ‘n stem begin gee.
- Sela: Vra die Heilige Gees om jou die vroue om jou se outentieke Godgegewe stem te laat herken.
- Lees: Eks 35-37
- Ondersoek die vervulling: Eks 37
- Delf dieper: Luister na Saar Zaayman se cd-lering: Breek deur die mure van gekwestheid.