Dag 478

 

“en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is”

(Jes 27:1, OAV)

 

Uit die vorige lering het ons onteenseglik duidelik bevind dat die Satan se primêre wyse van oorlogvoering teen gelowiges, hulle wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Open 12:17), is om haar met vals lering te oorspoel en sodoende ‘n sluier van duisterheid oor hulle te plaas. Hierdie sluier gee gestalte aan allerlei moulds (= maniere van dink) wat gevorm is deur afgodsiens, die gegote kalwers van oorlewering en godsdiens, wat nie beslag gee aan die Logos nie. Jesus het immers onomwonde gesê: “Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”

Daar is oorvloedig “gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens … geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees.” (Kol 2:22-23). Die misleiding van die eindtyd, het Jesus in Mat 24:4 ons gewaarsku, sal die dwingendste gevaar wees. In 1 Tim 4:1 bevestig Paulus hierdie siening: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang …”

Sjoe – giving heed to seducing spirits and doctrines of demons (ASV). Sien hoe die voete van die draak die water troebel maak (Eseg 32:2)? Daar sal valse leraars wees “wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën” (2 Pet 2:1).

Ons sien dus dat die draak veral lê in strome vals lering (Eseg 29:3) wat  hy agter gelowiges aanspoeg. Jes 14:29 waarsku dat daar ‘n bepaalde voltrekkende proses is as ons in die dwaalwaters gevang word: uit “die wortel van die slang sal ‘n basilisk voortkom, en sy vrug sal ‘n vlieënde draak wees”.

Dit is niks anders nie as die vrug van die boom van kennis van goed en kwaad (Gen 2:17). Hierdie boom van die koninkryk van duisternis het baie vrugte wat goed is, wat die meeste gelowiges dikwels verlei om daarvan te eet. Maar selfs die goeie vrugte van hierdie boom bring die dood voort. Die rede hiervoor is dat die vrug in hom saad het (Gen 1:11), en dat die saad in ons begin werk en dan ‘n sluier van duisternis weef. [Teenoor die woorde en die lering van God wat ook in ons werk: “Because of this we also give thanks to God unceasingly, so that when you received the word of God which you heard from us, you received not the word of men, but just as it truly is, the word of God, which also is at work in you who believe.” (1 Thes 2:13, EMTV).

As Yahwe belowe in Jes 25:7 dat daar ‘n dag sal kom dat Hy hierdie sluier sal vernietig, bou Jes 26 die verwagting op oor “In dié dag …” En Jes 27 vervolg met dié vooruitsig: “In dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is.” Dít gebeur op die berg Sion. In die volgende manna maak ons seker wat alleenlik hierdie sluier van duisternis oor ons almal kan verwyder.

 

  • Sela: Bid tot die Gees van die Waarheid om die Woord van Waarheid te ontsluit.
  • Lees: 1 Sam 7-9
  • Ondersoek die vervulling: 1 Sam 9:2 (Wenk: Hand 13:9; en onthou “Paulus” beteken “klein”).
  • Delf dieper: Luister na Gideon van Eeden se cd-lering: The secret chord: Die woorde van jou mond en die oordenking

        van jou hart.