Dag 61

 

“Ek het nie aan julle geskrywe omdat julle die waarheid nié ken nie, maar omdat julle dit ken … ” (1 Joh 2:21, OAV)

Die opdrag ten grondslag van die Elektroniese Manna is om die Bruid van Christus toe te rus en voor te berei (Luk 1:17) om in die derde dag (Hos 6:2) as seuns van God (Rom 8:19) te funksioneer, met die spesifieke doel om die tweede koms van Christus in te lei, maar ook om in die duisendjarige vrederyk met Hom te kan regeer as priesters en konings (Open 5:10). Ek het egter met die loop van jare se bediening duidelik ervaar dat die meeste gelowiges nié in staat is om die “gebou van God” (1 Kor 3:9) te word wat Hy vir hulle beplan het nie. Satan stuur dikwels geweldige storms om hierdie huis van God wat in die Gees gebou word, stukkend te slaan (Luk 6:49).

Die rede hiervoor is dat die meeste gelowiges se geestelike huis se fondamente uiters gebrekkig is. Die grondoorsaak hiervan is dat ons nie verstaan waaroor die groter prentjie van God se agenda gaan nie, maar ook: Ons noem Hom “Here, Here, maar ons doen nie wat Hy sê nie” (Luk 6:46). Daarom dan, soos Ps 11:3 dit stel: “As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen?” Die implikasie is: jy kan niks doen nie. Ons word soos die mense wat Paulus van gepraat het, “wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie” (2 Tim 3:7).

Efes 2:20 wys uit dat die hoeksteen van die gebou wat God opsit, is Jesus Christus. Dit het gebeur met jou bekering en wedergeboorte. Daarna moet “bekwame boumeesters” (1 Kor 3:10) dan die die fondament lê. Paulus sê dít is die taak van “die apostels en profete”, interessant genoeg, nie die leraars nie! Leraars fokus dikwels net daarop om die Woord van God reg te sny (2 Tim 2:15), dit wat in 2 Tim 3:16 uitgespel word. Dit vervul ‘n baie belangrike funksie. Maar apostels en profete het ‘n insig in die groter prentjie, en daarbinne word die fondamente van hierdie uniekeie gebou van God gelê met openbaringskennis.

Die grootste deel van hierdie proses is allereers om “uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes”, daarna eers om “te bou en te plant” (Jer 1:10). Die vals mure moet afgebreek word, sodat die fondament blootgelê kan word (Eseg 13:14). Die Bruid van Christus, die begeerde stad van die Seun van die mens, ons Bruidegom, het duidelik soliede fondamente (Heb 11:10; Open 21:14 & 19). Dáárom: al is van die lering tot dusver vir jou baie bekend: “I haven’t been writing this to tell you something you don’t know, but to confirm the truth you do know” (1 John 2:21, MSG).

  • Sela:  Bid deur 1 Kor 3: 10-15 in die lig van die bostaande. 
  • Lees: Eks 11; Ps 61; Rom 3
  • Memoriseer: Rom 3:23 & 28
  • Vir dieper delf:  Luister na Tom Gouws se cd-lering oor: Die argitektuur van God in die Gees.