
“Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.” (Rom 13:12, OAV)
In ‘n paar van hierdie kort studiestukke is daar al stilgestaan by die feit dat die gelowige van die begin af gewikkel is in ‘n stryd teen die Satan en sy magte in die koninkryk van duisternis. Van Adam af is hierdie spanningsverhouding uitgespel: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Gen 3:15). Van toe af, tot aan die einde van tye, sê Open 13:7, is daar mag aan Satan en sy meelopers gegee “om oorlog te voer teen die heiliges”, hulle selfs “te oorwin”.
Tog leef die meeste Christene so asof hulle in ‘n geestelik neutrale wêreld funksioneer. Os Guinness sê dit so raak in sy The Call: ““The modern world quite literally ‘manages’ without God. We can do so much so well by ourselves that there is no need for God, even in His church. Thus we modern people can be profoundly secular in the midst of explicitly religious activities. Which explains why so many modern Christian believers are atheists unawares. Professing to be believers in supernatural realities, they are virtual atheists; whatever they say they believe, they show in practice that they function without practical recourse to the supernatural.”
In 1 Joh 3:8 word verklaar: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” Maar hoe gebeur dit? Jesus stel dit eksplisiet in Mat 12:28: “Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.” Die aanwesigheid van die salwing van God en sy sewe Geeste is AL wat dit moontlik maak om in “ons worstelstryd … teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes 6:12) nié onseker te wees en te “slaan met die vuis soos een wat … in die lug slaan nie” (1 Kor 9:26). Ja, die enigste kwalifisering vir geestelike oorlogvoering is om met Christus beklee te word (Rom 13:14) en “die wapens van die lig” (vers 12) aan te gord.
- Sela: Jy behoort teen hierdie stadium te verstaan dat jy op ‘n spesifieke wyse toegerus moet word om in die geestelike realm te funksioneer. Baie gelowiges vind geestelike oorlogvoering baie opwindend, maar het nie die toerusting (en derhalwe outoriteit) om dit sonder skade te hanteer nie. Neem bestek op van waar jy staan in die gees.
- Lees: Eks 18; Ps 68; Rom 10
- Memoriseer: Ps 68:18 en 31 (leer hulle in die Engels; in Afrikaans is hul nie goed vertaal nie. In Afrikaans is dit verse 19 en 32).
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die poort van Gad – geestelike oorlogvoering.