Dag 767-769

 

“So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei

en hulle in die vuuroond gooi.”

(Mat. 13:49-50a, OAV)

Ons is tans besig om te kyk na die betekenis van die vuuroond in die Nuwe Testament en het in die vorige Manna die eerste van twee gelykenisse behandel waarin dié gelade woordjie voorkom. Die woordjie “vuuroond” word deur Jesus self gebruik in die verklaringe van twee van die sewe gelykenisse wat Hy gedoen word.

Allereers die kort gelykenis: “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring; en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg.” (Mat. 13:47-48).

Let asseblief op: dit gaan oor die koninkryk van God. In verskeie bronne wat ek oor hierdie gelykenis geraadpleeg het (o.a. Beasley-Murray se Jesus and the Kingdom of God, en die Gereformeerde Eeufeesbundel: Die Koninkryk van God) is die teoloë se grootste struikelblok in die interpretasie van die gelykenis ‘n onlogiese interpretasie van wat presies die Koninkryk van God is. Die Koninkryk van God is nié die hemel of die hiernamaals nie, maar wel die hiermaals waar God in sy koninkryksdomein regeer.

Elke gelowige wat wedergebore word, gaan OP AARDE in dié koninkryk in (Joh. 3:3 & 5). Die net wat die seuns van God inbring na die tweede dimensie (Joh. 21:11; Luk. 5:4-5; Eseg. 47:10) bring uit die “sea of humanity” (Open. 17:15) gelowiges “van elke soort”, wat later in die gelykenis geklassifiseer word as “goeies” en “slegtes”. Besef dit asseblief – die slegtes is ook gered én selfs wedergebore, dus bepaald nié verlore nie!

Die vraag is egter – wat maak die gelowige persone in dié dimensie dan “goed” en wat maak hul “sleg”? Die woordjie goed word konsekwent só in al die vertalings vertaal, maar sleg word ook vertaal met “worthless” (Ampl), “rotten” (EMTV), “unfit to eat” (Msg), “no use” (NJB). Maar synde dat “goed” en “sleg” hier in terme van die simbool “vis” gebruik word, moet dit noodwendig metafories wyer geïnterpreteer word. Die woord vir goed in Grieks kan, volgens Thayer’s Greek Definitions, beteken: “beautiful, handsome, excellent, eminent, choice, surpassing, precious, useful, suitable, commendable, admirable … ; good, excellent in its nature and characteristics, and therefore well adapted to its ends  … genuine, approved … joined to names of men designated by their office, competent, able, such as one ought to be … praiseworthy, noble … beautiful by reason of purity of heart and life, and hence praiseworth … honourable, conferring honour … affecting the mind agreeably, comforting and confirming”. Lees dit nou weer as karakteristiek van die “goeie gelowiges”, al die eienskappe wat Jonathan David voorhou as The alliance of Honorable Men, diégene wat geroep is en wat die koninkryk met geweld gegryp het (Mat. 11:12).

Die kwalifisering van sleg is redelik bondig: “corrupted … no longer fit for use, worn out … of poor quality, bad, unfit for use, worthless” (Thayer).

Die eerste gedeelte van Jesus se eie verklaring van die gelykenis is absoluut veelseggend: “So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei …” (Mat. 13: 49). ‘n Paar begrippe uit dié verklaring moet net Skriftuurlik verhelder word:

  • “die voleindiging van die wêreld” is nie iets wat eers teen die einde van die tye sal gebeur nie; dit het reeds ‘n aanvang geneem sedert die opstanding van Jesus. Hierdie hele tydperk – tussen die eerste koms van Jesus en die wederkoms van Jesus – word “die voleindiging van die wêreld” genoem.
  • Die vertaling van “engele” hier van die Griekse woord aggelos is ongelukkig deur eeue se kondidionering summier deur die meeste vertalinge “engele” gemaak. Die woordjie kan bepaald as “engele” verklaar word, maar eweneens as “boodskappers”, of dan “gestuurdes”. ‘n Goeie demonstrasie daarvan is byvoorbeeld Jak. 2:25 waar hierdie presiese woordjie gebruik word om te verwys na die manne (Jos. 2:1) wat Josua gestuur het om te spioeneer en wie Ragab weggesteek het: “En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie?” Hier word die woordjie korrek vertaal as “boodskappers” en nie “engele” nie. Myns insiens is dit presies die geval met die Skrifgedeelte uit Mat. 13:49 – die gebruik van die woordjie “engele” gee aan dié gebeurtenis ‘n bepaalde geestelike misterieusheid, wat verdiend gedemistifiseer word as dit net as “boodskappers” vertaal word, soos wat byvoorbeeld die Rotherham Emphasis Bible en Young’s Literal Translation dit doen.
  • Dit is absoluut opvallend dat die “slegte” gelowiges nou genoem word “evil”,  maar dat die “goeie” gelowiges ‘n baie belangrike kwalifisering bykry – “righteous”. Skrik! In die koninkryk van God kan daar steeds “evil” en “wicked” gelowiges wees, wat ten spyte daarvan dat hul die Naam van Jesus bely en in die gawes van die Gees funksioneer, steeds gekarakteriseer kan word as “demonies”: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mat. 7:22-23). Regverdigheid (“righteousness”) is ‘n absolute voorwaarde van die tweede dimensie waar die evangelie van die koninkryk van God heers (“for the kingdom of God is … righteousness and peace and joy in the Holy Spirit” – Rom. 14:17). Om hierdie rede is dit van groot belang dat die gees van Elia “die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges” (Luk. 1:17) bring. ‘n Mens kan nou in hierdie lig sien presies dit wat Jak. 2:17-19 in geen onduidelike terme uitspel nie: “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.  Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon. Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder. Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?”
  • Die woordjie “afskei”, wat gebruik word om die proses wat plaasvind tussen “righteous” en “evil/wicked” gelowiges,, is in Grieks aphorizo: “to mark off from others by boundaries, to limit, to separate 1a) in a bad sense: to exclude as disreputable 1b) in a good sense: to appoint, set apart for some purpose” (Thayer).

 

Laasgenoemde opmerking is absoluut veelseggend. Diégene wat “set apart for a purpose” is, is diégene wat deur die tweede dimensie dring na die derde dimensie – die Bruid van Christus. Die ander groep wat afgeskei word, verduidelik Jesus in die voltooiing van die verduideliking van die gelykenis, word “in die vuuroond (ge)gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.” Dis gelowiges met wie dit gebeur, diégene wat deur die motions van die Christelike ritueel gegaan het, maar wat nié vernuwe is na die innerlike mens nie. Dit word mooi uitgespeel in Jesus se ontmoeting met die kerkvolk van sy dag – die Fariseërs. “Ek weet dat julle die geslag van Abraham is,” sê Jesus in Joh. 8:38, wat hulle dan ook positief bevestig. Maar dan sê Jesus vir hulle: “As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen …” (vers 39). En dan maak Jesus hierdie ontstellende opmerking in vers 41: “Julle doen die werke van jul vader.” As dit dan nie vader Abraham is nie, wie sal hul vader dan wees – hulle wat ‘n verbond het met God?  Jesus spreek dit onomwonde: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.” (vers 48).

Tipologies beskou kan mense dus streng gesproke gered en wedergebore wees, maar tog nog uit die saad van die slang (Gen. 3:15) sy/haar identiteit put. Kyk na die oorvloedige bewyse hiervan in die Skrif, waarvan net enkeles hier genoem word:

  • “Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas.” (Mat. 3:7-8).
  • “Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?” (Mat. 23:33).
  • “Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” (Hand. 13:10).

 

Dit is 1 Joh. 3:8-10 wat vir ons die erns van hierdie saak uitspel in geen onseker terme nie: “Hy wat die sonde [hamartia – om jou merk of skeppingsdoel te mis] doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie …” Dit is dus moontlik om deur die rituele van water- en Geesdoop te gaan (Joh. 3:3 & 5) om tot wedergeboorte te kom, maar nooit werklik van bo gebore te wees nie. Die ongesiene wedergeboorte sal manifesteer in werke en dade van geregtigheid – net aan die vrug kan die boom geken word (Mat. 7:16-21).

In opvolging tot die gedeelte van Mat. 3:7-8 hierbo, is die gesprek tussen Jesus en die gelowiges van sy tyd van die allergrootste belang vir ons gesprek tans oor die vuuroond. Mat. 13:50 het gesê dat dié gelowiges in “die vuuroond gegooi” sal word, dat daar geween (sal) wees en gekners van die tande”. In Mat. 3:9-12 verduidelik Jesus hoe hierdie vuuroond op aarde die eerste- en tweededimensiegelowiges sal suiwer: “En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek. Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi … Hy wat ná my kom … sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.”

In die vuuroond van die Bruid word alle ongelowiges, maar ook eerste- en tweede-dimensiegelowiges met vuur getoets. Jesus eindig hierdie gelykenis met die woorde: “Het julle ál hierdie dinge verstaan?” Helaas het ‘n groot deel van hierdie waarheid die kerk bly ontglip. Uiteraard sal dit ‘n geween en ‘n gekners van tande meebring (Mat. 13:50) – daaroor sal ons in die volgende Mannas dieper besin.

 

  • Sela: “Het julle ál hierdie dinge verstaan?”
  • Lees: 2 Kor. 10-13; Gal. 1-6
  • Ondersoek die OT-tipologie: 3:16 (Wenk: Gen. 12:3; 1 Pet. 1:23).
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Hoe ontvang ek die Gesalfde Saad van Christus?