Dag 93

 

“Kyk, ek gaan ‘n huis bou vir die Naam van die HERE my God, om dit aan Hom te heilig—om voor sy aangesig … die toonbrode gedurig reg te sit” (2 Kron 2:4, OAV)

Jy moet deurgaans die oorkoepelende metafoor van die toonbrode in gedagte hou as ons in die loop van die ontvouende openbaring hier en daar ‘n afdraaipaadjie ondersoek. Ons is tans besig met die sakrament van die nagmaal, maar moes toe ingaan op wie die Liggaam is – ‘n geweldig belangrike waarheid wat ons deur ons oorlewering nie altyd verreken nie.  

Die vorige lering kan miskien opgesom word in die volgende Skrif: “hierdie volk (kom) nader met hulle mond en eer (My) met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is” (Jes 29:13).

Wat ons as kerk beskou, is dikwels ‘n klomp verlostes wat godsdienstige rituele uitvoer rondom die goue kalwers van godsdiens. Die godsdienstige ywer laat ons dikwels ‘n gemeente bou, en voor ons besef, is ons besig om die toonbrode van plig “gedurig reg te sit”, soos dit hoort, maar met die knaende juk van plig – dit word ‘n aangeleerde mensegebod sonder Lewe.

Omdat die kerk derhalwe dikwels ‘n sosiale funksie vervul, en dit nie die byeenkoms is van diegene wat die Here vrees nie, is daar dikwels ‘n neiging om die diens in te klee rondom die behoeftes, die nukke en grille van mense. Om hierdie rede is die kerk deesdae meer van ‘n sosiale klub, waar godsdienstige aktiwiteite aangebied word. Dit gebeur derhalwe dat mense nie eintlik in die Teenwoordigheid van God inskuif nie – die meeste dinge wys heen na Hom, maar Hy is nie daar nie!

Ons lees in Hand 5:1-11 van die dood van twee gerespekteerde kerkmense, Ananías en sy vrou Saffíra, wat vir die Heilige Gees gelieg het omdat hulle hulle medekerkgenote wou beïndruk. Vers 11 sê: “En ‘n groot vrees het oor die hele gemeente gekom en oor almal wat dit gehoor het,” en dan word daar in vers 13 hierdie merkwaardige ding opgemerk:  “None of the other people dared to join them, although the people continued to hold them in high regard.” (ISV).

Die kerk is net vir hulle wat die Here vrees”, en, ongelowiges moet besef: “no one dared to be joined to them” (LITV) – hulle kan nie deel van die Liggaam wees nie.

 

  • Sela:  Ondersoek jou geloofsgemeenskap tov die manifestasie van die vrees van die Here.
  • Lees: Rig 3; Ps 93; Hand 3 
  • Memoriseer: Hand 3:21 (Eng)
  • Vir dieper delf: Luister na Elsabé Pienaar se cd-lering oor: Die vrees van die Here.