My pinkie is dikker as my vader se lendene.”
(1 Kon. 2:10, OAV)
Daar is verskeie persone in die Bybel wat die profiel van narcissisme vertoon. Ons het in die vorige Manna na drie eksplisiete narcissiste: Goliat, Nabal en Nebukadnésar, gekyk, en gaan in hierdie Manna oorsigtelik na ‘n handvol ander kyk. Ons gebruik hul profiele om sekere aspekte van die toestand van narcissisme te wete te kom, en sodoende uit Bybelse oogpunt ‘n antwoord op hierdie perverse staat van mense met te veel selfliefde te kan bied.
Net weer opsommend: Om deurgaans ‘n groterige poel van mense te hê wat sy/haar eiewaan (megalomania) kan voed, het die suksesvolle narcissis die kuns van sosiale maskers bykans vervolmaak. Hulle word daarom ook sosiopate genoem. Hy/sy kan besonder hartlik en gaaf wees, innemend, sosiaal fyn geslyp, soms egter selfs kruiperig en onderdanig. Hy/sy is dikwels ‘n geoefende akteur wat die hele toonleer van emosies in situasies kan simuleer. Tog is dit vir hom/haar moeilik om dit vol te hou, en vind jy dikwels in onbewaakte oomblikke ‘n ander onderliggende emosie as die een wat voorgehou word. Al hierdie gemeenskaplike aspekte van narcissiste kan duidelik in die lewens van Bybelfigure gesien word.
As Satan en Adam dalk die eerste prototipes van narcissisme was, was Kain bepaald die eerste volbloed narcissis. Daar is in vorige Mannas al baie oor Kain geskryf (gaan lees weer Dag 181-182, 288-289, 302-305, 643 en 814 om jou geheue te verfris). Enkele karakter-eienskappe en gepaardgaande dade wat uit hierdie Mannas na vore gekom het, kan maklik ‘n opsomming word van tipiese eienskappe van narcissistiese persoonlikhede:
- Kain word ‘n “tiller of the ground” (Gen. 4:2) genoem. Hy word die prototipe van die natuurlike mens wat amper onmoontlik van sy vleeslikheid en gepaardgaande sekularisasie ontsnap.
- As daar in Jud 1:11 van “die weg van Kain” gepraat word, beteken dit dit is ook ‘n prototipiese pad van die Bose (1 Joh. 3:12) is, met ander woorde narcissiste kom deur selfbeheptheid in “die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen” (2 Tim. 2:26).
- Kaïn as “tiller of the ground” het die teken geword van die gelowige mens wat sy geloof vleeslik bedryf, en uiteindelik bloot die kontoere van sy eie vlees bewerk en dat dit geen welwillende offer sal voortbring nie (Gen. 4:12a). “Tiller” beteken onder andere “to be enslaved, to serve the self”. As hierdie offers van godsdienstigheid gebring word, maak dit die poort oop vir misleidende geeste om jou tempel binne te kom, en hulle verhard die hart nog verder, maak jou meer wetties en laat die liefde verkoel. Jy begin dan dwaal, soos Kain (Gen 4:12b), los van jou skeppingsdoel in Christus.
- Vir narcissiste is dit baie moeilik om die wil van God te gehoorsaam. Hulle meet alles aan wat dit vir die self kos, en derhalwe maak dit dit onmoontlik om in die wil van God te loop. As ‘n mens weet wat God vra, en dit nie doen nie, bewandel jy “die weg van Kain”.
- Dit bring die narcissis in ‘n ervaring van tevergeefsheid in sy geloofswandel. Omdat “die vlees begeer teen die Gees” (Gal. 5:17) moet hy/sy heeltyd ‘n masker opsit in alle geestelike sake. Godsdienstig uiterlike manifestasies van geestelike gedrag (op verhoë, voor die kameras, in die Christelike kollig) pas hul dus, want dit word gebruik om die ego te voed.
- As daar enigsins sprake van kompetisie is met ‘n persoon wat beter is as die narcissis, of as iemand van die narcissis se vals bodem uitgevind het, sal hy/sy daardie “teenstander” onmiddellik tot persona non grata Soos Kain sal hy/sy nie huiwer om (karakter)moord te pleeg nie (1 Joh. 3:12).
- Die narcissis het ‘n geskiedenis van vlug – soos Kain (Gen. 4:11-12).
- Jaloersheid is een van die duidelikste “werke van die vlees” (Gal. 5:19-21) wat by die narcissis te bespeur is, eweneens soos by Kain, en dan word Jak. 3:16 waar: “want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade”.
Kain word in Jud. 1:11 geassosieer met Korag: “Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bíleam gestort en in die verset van Korag omgekom.” (Daar is eweneens baie oor Korag geskryf in die Manna – gaan kyk na Dag 191-94, 200, en 206-211.) Die gees van Korag werk hoofsaaklik rondom ‘n behoefte om sélf in geestelike sake erken te word, om die geestelike outoriteit te deel of te beheer, dat dit gevoed word deur beskuldiginge en gedra word deur onvergenoegdheid waarvoor iemand in outoriteit geblameer moet word, en dat dit resulteer in ‘n bendevorming teen die gestelde orde. Die gees van Korag is in wese narcissisties.
Ons kan na verskeie ander figure uit die Bybel duidelik narcissistiese kenmerke raaksien. Farao, wat dit nie kon hanteer as hy nie sy sin kry nie (‘n narcissistiese maniertjie); Saul, wie se grootheidswaan hom Dawid sonder ophou laat vervolg het. Ook Absalom was ‘n klassieke narcissis: uitsonderlik aantreklik, met ‘n formidabele, bewonderingswaardige haardos (2 Sam. 14:25-26), wat selfs sy vader Dawid se posisie as koning wou oorneem, verlei deur populisme (2 Sam. 15:6).
Die latere Salomo vertoon duidelik narcissistiese eienskappe, veral omdat hy ‘n onstuitbare begeerte na altyd nog meer gehad het: “En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; my hart het ek van geen enkele vreugde teruggehou nie …” (Pred. 2:10). Tog het hy nooit versadiging kon vind nie, en was alles teen die einde vir hom tevergeefs.
Rehábeam, Salomo se seun, was bepaald ‘n bedorwe brokkie en narcissis by uitnemendheid. Ons lees in 1 Kon. 12 hoe hy homself slegs deur sy verknegdheid aan populariteit van sy ydel vriendekring laat lei het om die volk van God te laat ly. Sy napratery verklap sy onvermoë tot ‘n eie identiteit, en die volgende woorde dui absoluut op ‘n grootheidswaan: “My pinkie is dikker as my vader se lendene.” (vers 10).
Agab, Isébel en Atalia is drie figure wat nie net narcissisties optree nie, maar duidelik ook ‘n manifestasie is van die gees van Isébel. Daaroor is uitvoerig geskryf in Manna 462-463.
Uit verskeie standaardbronne oor narcissisme word vermoed die wortel van hierdie geestessiekte is skaamte (“shame”) In die volgende Manna sluit ons die kort reeks oor narcissisme daarmee af.
- Sela: Probeer skaamte en narcissisme met mekaar in verband bring.
- Lees: Amos 1-9
- Memoriseer: Amos 5:19
- Delf dieper: Luisterna Tom Gouws se cd-lering: Die Gees van Atalia vernietig “the seed of royalty”