BYBELBAAK 183
Liefkind, ek is baie, baie jammer oor jou pa se dood – dit is ‘n geweldige verlies en het verseker ‘n groot gemis by jou veroorsaak. ‘n Mens kan verstaan dat jy ‘n groot behoefte het om steeds op een of ander manier hom te ervaar, in drome en in gesprek, en daar is geen fout daarmee nie – hy bly altyd jou pappa, selfs al is hy nie meer fisies daar nie. MAAR, daar is ‘n groot geheimenis wat ek graag met jou wil deel. Ek het jou pappa goed geken, en hy was iemand wat in God geglo het, ook in die beloftes wat Jesus gemaak het. Jesus het in Joh. 11:26 gesê: “wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?” Daar is drie dinge wat ons hieruit moet leer: 1. Jou pappa leef, al het hy gesterf. Jy praat dus nie met ‘n dooie nie. Trouens, Jesus sê God is NET ‘n God van lewendes, nié van dooies nie (Matt. 22:32). Jesus het duidelik ‘n ander definisie vir dood as wat ons het. 2. Omdat jou pappa geglo het, KON hy nie sterf nie; Hy lewe, maar net in ‘n ander realm wat ons nog nie heeltemal deel van is nie. Dit lyk grootliks soos die wêreld wat ek en jy ken, maar dit is net die ewige weergawe daarvan. Dit bestaan werklik, maar is onsigbaar vir ons omdat dit ewig is (2Kor. 4:18). Jou pappa het toe hy fisies gesterf het, net met sy geestelike liggaam onmiddellik oorgegaan na die wolk van getuies toe. Die wolk van getuies (Heb. 12:1) is almal wat in Christus gesterwe het. Hoe gebeur dit? Rom. 6:8 verduidelik: “As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe”, en dan verstaan ons dat daardie oorgang van dood na lewe met jou wedergeboorte gebeur (Joh. 3:3). Volgens Rom. 6:3-4 (MSG) gebeur die volgende: “That is what happened in baptism. When we went under the water, we left the old country of sin behind; when we came up out of the water, we entered into the new country of grace–a new life in a new land! That’s what baptism into the life of Jesus means. When we are lowered into the water, it is like the burial of Jesus; when we are raised up out of the water, it is like the resurrection of Jesus.” Ek persoonlik het jou pappa gedoop, en ek weet hy het daardie dag sy verheerlikte geestelike liggaam gekry, en nou leef hy voltyds daarin! Soos Joh. 5:24 dit mooi sê: jou pa het daardie dag “oorgegaan uit die dood, in die lewe”. 2Tim. 2:11 maak dit as belofte vas: “Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterwe het, sal ons ook met Hom lewe.” Met jou pappa se fisiese dood het hy bloot sy fisiese liggaam – wat baie siek geword het van die breinkanker – agtergelaat, want God het hom in sy geestelike liggaam laat vrygaan. Daardie dooie liggaam wat jou pappa agtergelaat het, was glad nie meer jou pappa nie! Hy het bloot sy vleishuisie wat as ‘n tydelike blyplek gedien het sedert hy gebore is, hier laat agterbly. Nou is dit vir hom moontlik om heeltyd bewus te wees van wat met jou en jou mamma en die ander kinders gebeur, want hy is nou daarop ingestel om julle aan te moedig om al die nuwe uitdagings aan te pak en julle lewens met vreugde te lei. Hy moedig ons almal aan, maar veral vir jou, om in jou skeppingsdoel te loop, want dít sal hom volkome gelukkig maak (Heb. 11:39-40). Hy is ook besig om saam met Jesus planne te maak om die hele wêreld onder God se beheer te kry (Ef. 1:10) – Jesus het nou jou pa nodiger gehad in sy span as wat sy baie siek liggaam hom sou toelaat om hier op die aarde met sy beperkinge te kon doen. Omdat ek en jy nog beperk in hierdie werklikheid is, kan jou pappa nie met ons praat nie, maar hy sal verseker weet as jy met hom praat. Gelukkig het God die Heilige Gees vir ons gegee om ons te troos, en raad te gee (Joh. 14:26), miskien selfs beter as wat pappas kan doen. 3. Die laaste ding wat ons uit daardie Skrif hierbo moet leer, is om te antwoord op Jesus se vraag: “Glo jy dit?” Maak seker dat jy dit verstaan wat ek probeer verduidelik het, en sê vir God jy glo dit. Leef dan jou lewe met die Heilige Gees, wat jou in alles gaan help om self God te hoor, en jou skeppingsdoel te vervul. Jou pa gaan heeltyd daar vir jou wees. ‘n Mens mag natuurlik hartseer wees oor die dood van ‘n geliefde, maar as jy verstaan hoe God dood en ware lewe sien, sal dit vir jou baie makliker wees, want jy sal verstaan dat dit alles deel van God se goeie plan vir julle almal was, ook vir jou pappa. Al my liefde, oom Tom.
Dr. Tom Gouws