BYBELBAAK 146
Die woordjie in die Grieks wat hier gebruik word, is “doulos”, en beteken bloot “slaaf”. ‘n Woordeboekdefinisie spel die implikasies van hierdie identiteit uit: “one who is subservient to, and entirely at the disposal of, his master”. In die Romeinse reg is ‘n slaaf of “bondservant” in ‘n permanente posisie van dienspligtigheid omdat hy/sy die eienaar se persoonlike eiendom was. Slawe het géén regte gehad nie, en hul eienaars kon hul na goeddunke gebruik, misbruik, mishandel, self doodmaak, met totale vrywaring van enige wetlike verantwoordelikheid wat die slaaf aangedoen is. In die Hebreeus is die woord “ebed”, met ‘n soortgelyke betekenis, alhoewel die Mosaïese wet wel op ‘n stadium die slaaf vryheid gebied het As jy ‘n Hebreeuse slaaf koop, moes hy ses jaar lank dien, maar in die sewende moet hy as vryman verniet weggaan. Die slaaf kon egter dan kies of hy/sy by die eienaar wil bly, en dit het met ‘n belangrike ritueel gepaard gegaan: “Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer … lief; ek wil nie as vryman weggaan nie—dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ‘n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.” (Ex. 21:5-6). Tipologies is dit ‘n pragtige beeld van die gelowige as “bondservant” wie se oor (simbolies van ‘om te hoor’, asook ‘om geHOORsaam te wees’) uit vrye keuse aan die deur ( = Jesus – Joh. 10:9) permanent vasgeslaan word. Jesus het pertinent ook die wil van God in sy lewe gekies (“Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” – Luk. 22:42; ook Heb. 10:7 (AMP) – “Here I am, coming to do Your will, O God–[to fulfill] what is written of Me in the volume of the Book.”). Dáárom word Hy ook God se “Bondservant” (Jes. 53:11; Fil. 2:7) genoem, trouens dié voorbeeld van die grootste “bondservant” van alle tye, ‘n vrywillige dienskneg tot die dood toe, vir álle mense (Mark. 9:35) . Dit beteken dat ek uit keuse as “bondservant” my oor permanent het op die hart van Jesus, en Hy sy oor permanent het op die hart van Ons Vader: “In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.” (Joh. 14:20). Dis in hierdie lig dat baie geloofshelde in die Bybel as “bondservants” benoem word: Moses, Abraham, Josua, Dawid, Jesaja, Paulus, Timótheüs, Petrus, Jakobus en baie ander. Dis ‘n nederige, maar eervolle posisie. Dit beteken ook dat as jy jou slaafskap aan God kies, jy alle ander meesters en mense se aanspraak op jou prysgee (Matt. 6:24), ook die wrede eienaarskap van sonde oor jou (Rom. 6:19-22) en jy jouself volkome wy aan Hom en aan sy wil (Matt. 16:24). ‘n “Bondservant” word eventueel soos sy heer (Matt. 10:25). Slaafskap is die absolute voorwaarde in die Christelike geloofswandel om enige outoriteit te verkry (Matt. 20:27 – “En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees.”) Daarom word jy spesifiek óók geroep om “’n dienskneg van Christus” (Gal. 1:10) te word, die ontwikkeling van ‘n absolute diensbereidheid aan die Liggaam van Christus op alle vlakke, sodat jou ware seunskap dáárdeur gedefinieer word en legitimiteit verkry (Gal. 4:7). Met hierdie skrywe sal ek my dan self ook, in volslae nederigheid en offerbereidheid, met my oor vasgeslaan aan die Deur, wil laat ken, soos Paulus, in Rom. 1:1 as:
Tom Gouws