BYBELBAAK 143
Om God se woord “te eet”, is ‘n metafoor. Die logos-woord van God is saad (Luk. 8:11) en dit sál ‘n oes meebring as dit reg hanteer word. Die saad van die Woord moet in ons geplant word, “natgemaak word” (deur die water van die Heilige Gees – Joh. 7:38-39) en God sal dit laat groei (1Kor. 3:6) – dis ‘n geestelike wetmatigheid. Omdat God deur die Heilige Gees die woord van God in jou laat werk, vind daar Geesgeleide transformasie plaas, soos 1Thess. 2:13 (Rotherham) dit mooi stel: “the Word which is also inwardly working itself in you”. Baie gelowiges weet egter nie hoe om prakties gesproke die Woord te eet nie. In die kommentaar op Eseg. 3:1-3 word hierdie metafoor soos volg in The Treasury of Scriptural Knowledge parafraserend verduidelik: “Receive My word into thy mind, let it enter into they soul; digest it, let it be thy nourishment, thy meat and thy drink, to do the will of thy Father who is in heaven.” Dieselfde gedagte word menigmaal dwarsdeur die Skrif herhaal, asof Vader vir ons deurgaans wil herinner at daar krag in die Woord van God is, dat dit nie net mensewoorde oor Hom is nie, maar dat die ganse Bybel die geïnskribeerde Lewe bevat wat in Jesus Christus is (Deut. 6:6-9; Job 22: Ps. 1:2 37:31; 40:8; 119:11 & 97; Luk. 2:19; Joh. 8:31-32; Kol. 3:16; 1Joh. 2:14). Let tog net asseblief op – dit is nie ‘n wettiese, meganistiese, mantraïstiese herhaling van Skrifte wat “hierdie lewe” (Hand. 5:20) bied nie. Jy moet die Woord onder leiding van die Heilige Gees internaliseer, oordink, bepeins, daaroor sela. Dit moet letterlik wees soos wat 2Sam. 23:2 dit voorhou: “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong.” Woord en Gees moet altyd saamspreek, want hulle is Één (1Joh. 5:7). Paulus verduidelik dit soos volg in 1Thes. 1:5 – “Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid …” Onthou altyd die waarskuwing van Jesus in Joh. 5:38-40: “En julle het sy woord nie as iets blywends in julle nie, omdat julle Hom wat Hy gestuur het, nie glo nie. Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” Om soos die Fariseërs net die Skrifte te ken en dit deurentyd aan te haal, is verkeerd. Die Skrif is die lewensbloed van wie die Godheid is; die lewe lê nie in die letterlike letters van die Woord nie – ons ken mos Paulus se waarskuwing in 2Kor. 3:6: “die letter maak dood, maar die gees maak lewend”. Dit is ook nodig om belangrike Skrifgedeeltes te ken “sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord” (Kol. 4:6). Moet nie net Joh. 3:16 ken nie; ken ook Gal. 3:16 en 2Tim. 3:16. Jy moet weet waar die Woord praat oor wedergeboorte, wie ‘n ware Jood is, die belangrikheid van doop, doping in Christus, die evangelie van heerlikheid, en so meer. As jy sukkel om Woordkorrelate vir die onderwerpe hier genoem te kan gee, is dit ‘n oproep dat dit nou die welaangename tyd is dat die Woord ryklik in jou moet begin woon. Éét die Woord.
Dr. Tom Gouws