BYBELBAAK 144
Mans se behoefte aan eksklusiewe manlike aktiwiteite van hierdie orde is grootliks die voortsetting van hul onvervulde kleintydse bendeaktiwiteite. Dikwels maak dit ‘n goeie sosiale bydrae tot die samelewing, maar dit het die versweë groot voordeel van goed saamkuier, die maak van besigheidskontakte, uiting gee aan ‘n behoefte tot humanitêre hulpverlening, asook sosiale status. Die meeste van die organisasies het geheime rituele, maar dit het weinig implikasies vir hul lede of hul gesinne of families. Vrymesselary begin egter onskuldig, maar het groter geestelike implikasies a.g.v. die rituele en geloftes wat hul van die intreegraad tot die 33ste graad deurloop. Daar is ook ander geheime organisasies wat hul inisiate doelbewus mislei en stelselmatig in die okkultiese onderwêreld inlei. Die algemene Bybelse beginsel wat vir ons gebied word om dit te hanteer, is Luk. 12:2-3: “En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word.” Op grond van hierdie geestelike wetmatgheid kan elke gelowige God vra dat enige vorm van geheimhouding aan die lig moet kom, en dit sal met die loop van tyd uitgewys word, selfs dié dinge “wat in die geheim deur hulle gedoen word, wat te skandelik is om eers te noem” (Ef. 5:12). Sodoende kan jy dit dan geestelik hanteer.
Dr. Tom Gouws