BYBELBAAK 138
Daar was die afgelope paar jaar verskeie betroubare berigte oor riviere, damme, kanale en selfs reën wat ‘n onmiskenbare rooi kleur vertoon: in Nederland, Australië, Libanon, China, Sri Lanka, asook elders. In die Bybelse geskiedenis het ons die gebeurtenis waar God die water vir die Egiptenare in bloed verander het as een van die tien plae (Ex. 7:20-21) as ‘n getuie dat dit moontlik is. Dan word daar in byvoorbeeld Op. 8:8 gepraat van ’n derde van die see wat bloed word. Later in Op. 16:3-4 lees ons: “En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van ‘n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe. En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword.” Die twee getuies waarvan Op. 11:6 praat, het – soos Moses – die Goddelike outoriteit om water in bloed te verander. Net ‘n paar algemene opmerkings: 1. Die sogenaamde eindtyd kom as begrip nie in die Bybel voor nie. 2. Die “tekens van die tye” (Matt. 16:3) het gehandel oor die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C.. Dis afgehandel. Matt. 24 s’n ook. 3. Gelowiges, het Jesus uitgespel, is wederstrewig as hulle tekens soek – daar is nét een teken gebied, dié van Jona (Matt. 16:4), wat simbolies dui op die opstandingskrag van Jesus uit die dood wat vir alle mense ‘n nuwe bedeling ingelei het. 4. Ons fokus moet dus totaal nét wees op “die tye van die wederoprigting van alle dinge” (Hand. 3:21). Die oorkoepelende doel van alles wat sedert die opstanding gebeur, word gestu deur die ywer van God (Jes. 9:6) wat Ef. 1:10 sal voltrek: “om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—“ Ons is sedert die opstanding van Jesus in die “laaste dae” (1Pet. 1:20; 2Pet. 3:3). 5. Die groot probleem met gelowiges is dat hul nie God se meesterplan vir die herstel van alle dinge deur die Bruid van Christus verstaan nie. Derhalwe lees hulle die boek Openbaring as ‘n fisiese profetiese register, wat dit geensins is nie. 6. Die boek Openbaring is nie voorspellings oor die einde van die wêreld en die kataklismes wat dit gaan meebring nie, nee. Dit gaan oor die openbaring van Jesus die Christus IN die Bruid. ALLES van die boek is simbolies. Dit handel oor die apokalupsis van die Bruid, letterlik “to take of the cover”, daardie godsdienstige oortuigings van o.a. die eindtyd waarmee “die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2Kor. 4:4). 7. Terug dan by jou vraag oor die rooi riviere. Allereers is die rooi kleur nie as gevolg van bloed nie, dis bloot rooi gekleur, en die rooi tint is a.g.v. óf ‘n rooi-alg-vermeerdering in vars water óf rooigety in seewater. Óf dit is rooi kleurstof in die water (soos in China), óf dit is rooi a.g.v. ‘n chemiese reaksie na onwettige stortings (Libanon). Christene moet die goedkoop histerie om tekens te soek oor die eindtyd stop en hulle toelê om eerder in die godsaligheid te groei en die aarde te herstel volgens God se bloudruk.
Dr. Tom Gouws