Kom die benaming ‘Dooie See’ enigsins in die Bybel voor? Ook: is daar ‘n verskil tussen die Rooi See en die Skelfsee?

 

BYBELBAAK 140

 

In die Ou Vertaling (1953) kom die benaming ‘Dooie See’ nie in die Bybel voor nie. Die Ou Testament noem dit die Soutsee (Gen. 14:3; Num.34:3 & 12; Jos. 15:2), omdat die water sout en die grond daar rondom brak is. Dit word ook genoem die See van die Vlakte (Deut. 4:49) , of in die AMP bv. “the [Dead] Sea of the Arabah” (2Kon. 14:25). Die Arabâ is die verlenging van die Jordaanslenk wat sy diepste insinking in die Dooie See vind. Dis egter nie vrugbaar nie, eerder ‘n braklaagte. Nog twee ander benaminge is bloot “die see” (Jer. 48:32) en die oossee (Eseg. 47:18), wat dui op die oosgrens van die landstreek Juda indertyd. Eers teen 390 n.C. het die Bybelvertaler, Hieronimus, die Dooie See só benoem. In die suide leef niks in hierdie swawelagtige soutwater nie, en ‘n mens kan daarin dryf. In die noorde waar die Jordaan invloei, neutraliseer dit die soutgehalte effens, maar karige lewe is eweneens daar moontlik. Die ‘see’ het nie ‘n uitvloei nie, die water verdamp en die sout bly agter.
Oor die tweede deel van die vraag – die OT praat net van die Skelfsee (Ex. 13:18), wat ook vertaal kan word as Rietsee. Herodotus, die Griekse historikus, het allereers van die Rooi See gepraat. Dit verwys na die Indiese Oseaan wat in ‘n punt opskiet tussen Afrika en Asië, die uitloper wat later d.m.v. die Suezkanaal aan die Middelandse See verbind is. In enkele apokriewe boeke en in die Nuwe Testament word dit dan sonder meer die Rooi See genoem (Hand. 7:36; Heb. 11:29). Maar in die gebruik van die benaming ‘Skelfsee’ in die OT is daar weliswaar ‘n probleem, want daar is twee uitlopers van die see tussen die Arabiese skiereiland en Egipte wat daardie naam dra. Die plek waar die Egiptenare Moses en die Israeliete teen die see vasgedruk het en dus die plek waar God die deurgang bewerkstellig het (Ex. 13:18; 14:2-31), is die Skelfsee/Rooisee aan die noordekant van die uitloper, waar later die Suezkanaaal gebou is. Maar volgens 1Kon. 9:26 is die ander uitloper, tans bekend as die Golf van Akaba (waar die spanning tussen Israel en Egipte dikwels op die spits gedryf word), ook bekend as die Skelfsee. Albei uitlopers het dus indertyd as die Skelfsee bekend gestaan.

Dr. Tom Gouws