BYBELBAAK 141
Daar is dikwels aannames oor geloofsake wat eintlik glad nie Bybels is nie. Daar word allerweë oor byvoorbeeld aartsengele gepraat, en dan word uitvoerige teorieë voorgehou waarvoor aartsengele dan nou verantwoordelik sou wees. ‘n Bykomende misverstand in Afrikaans is dat die “aarts”-voorvoegsel geheel en al verkeerd as “van die aarde” geïnterpreteer word, en hierdie aartsengele dan werk uitgedeel word t.o.v. wat hul op die aarde moet doen. Aarts- beteken bloot eerste of vernaamste, bv soos in die woord aartsbiskop. Die misverstand oor die aartsengele glo ek het ontstaan uit ‘n verkeerde vertaling van Dan. 10:13 (in die KJV) en derhalwe ondersteun dít die apokriewe boek van Henog, wat die aartsengele identifiseer as Mígael, Gabriël, Rafael en Uriël. Gabriël word in die Bybel bloot ‘n engel genoem (Dan. 8:16; 9:21; Luk. 1:19 & 26); vir die ander twee, Rafael en Uriël, is daar geen Bybelse verwysing nie. Mígael is dus die enigste aartsengel. Die woordjie ‘aartsengel’ kom slegs twee keer in die Bybel voor. In Jud. 1:9 staan daar: “Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!” As die woordjie “engel” dan “boodskapper” of “gestuurde” beteken, dan is aartsengel bloot: die eerste/hoogste/belangrikste van die gestuurdes, of dan: “chief messenger”. Mígael se naam beteken: “One who is like God”, en dit kan net op Één dui: Jesus Christus. Die ander teks is 1Thes. 4:16 – “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” Hieruit is dit duidelik: Mígael was deurgaans ‘n manifestasiegestalte van die pre-geïnkarneerde Jesus! Die hele Heb. 1 word gewy aan hierdie ereposisie van Jesus in terme van die ander engele, of gestuurdes. In die vooruitskouing van die wêreld se geskiedenis profeteer Daniël: “At that time Michael, the great prince, the protector of your people [Israel], shall arise.” (Dan. 12:1, NRSV). In Op. 12:7 word dit herhaal, maar gekwalifiseer deurdat die aanvoerder van die “heavenly host” in Op. 19:11 e.v. – waar Hy eksplisiet genoem word: die Woord van God, “die Koning van die konings en die Here van die here” – duidelik Jesus is. Lees nou weer 1 Thes. 4:16 hierbo: Jesus daal neer SOOS met die geroep van ‘n aartsengel! Hoe duidelik is dit nie! Slegs vir die tyd wat God mens geword het, was Hy – die eerste of hoof van die engele – minder as hulle gemaak (Heb. 2:9). Jesus het baie Name in die Ou Testament (die Engel van die Here is die vernaamste); Mígael is bloot een van sy Name.
Dr. Tom Gouws