BYBELBAAK 139
Ongeregtighede (“iniquities”) is ‘n sondelas wat nie as gevolg van jou persoonliken dade verkry is nie, of oortredinge wat nie jou verantwoordelikheid is nie, maar wat deur bloedlyne aan ‘n nageslag oorgedra word. Dit is ‘n Bybelse realiteit. As deel van die Tien Gebooie word dit byvoorbeeld uitgespel dat God “die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag” (Eks. 20:5). Selfs in die Nuwe Testament word ongeregtighede steeds benoem en onderskei (Rom. 6:13; 1Joh. 5:17). Baie mense glo dat die feit dat hulle dit nie geweet het nie, hulle kwytskeld of vrystel daarvan – dit is nie waar nie. Jes. 5:13 sê: “Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis …” en Hos. 4:6 – “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis …” Selfs in die reg is onkunde en naïewiteit geen verskoning nie. Eweneens is baie mense van mening dat die bedeling ná die kruis kategories met alle ongeregtighede klaargespeel het. Die kruis en die bloed van Jesus is net effektief vir hulle wat waarlik die vryspraak wat dit bied persoonlik aangeneem het en bevryding daarvoor ontvang het. (Daar is dikwels demoniese geeste wat ongeregtighede oor generasies heen in stand hou.) Daarbenewens – voor jou redding en wedergeboorte het die ongeregtighede uiteraard alreeds ‘n bepalende effek op jou lewe gehad (Ps. 51:5). In die Ou Testament word dit in Jer. 31:29-31 profeties in die vooruitsig gestel dat die nuwe verbond ‘n nuwe bedeling rondom ongeregtighede sal bring: “In dié dae sal hulle nie meer sê nie: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword. Maar elkeen sal weens sy eie ongeregtigheid sterwe; elke mens wat die groen druiwe eet, sy tande sal stomp word. Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit …” MAAR die nuwe verbond is net geldig vir hulle wat ‘n kontraksluiting met God by die kruis gehad het, en daarin word jou ongeregtighede saam met Jesus verbrysel (Jes. 53:5). Daar moet derhalwe met ongeregtighede by die kruis gedeel word, anders blý dit ‘n funksionerende realiteit in jou lewe. Dit verdwyn nie net as jy jou bekeer nie. Die res van die mensdom wat nié gered en wedergebore is nie, is steeds onder die universele wetmatigheid van die wet van “saai en maai” (Gal. 6:7; Gen. 8:22; Job 4:8; Spr. 1:31).
Dr. Tom Gouws