
BYBELBAAK 24
As jy as gelowige nié verligte oë van die verstand het nie (Ef. 1:18), sal jy – soos Ef. 4:14 sê – soos ‘n seegolf geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering wat bedrieërs in vreesagtigheid en onkunde jou mee tot dwaling bring. Dit gebeur as jy gefokus bly op aardse gebeurlikhede, en God se groter plan nie raaksien nie, en dan noodwendig alarmisties en vreesagtig oor al die wêreldgebeure word. Moet uit beginsel uit geensins hierdie kunstig verdigte fabels navolg of plek gee nie (2 Pet. 1:16). Een van die belangrikste implikasies daarvan as gelowiges reikhalsend na die sogenaamde wegraping of wederkoms uitsien en hulle voorberei vir die versinde gebeure wat nog moet plaasvind voor dan, is dat hulle toekomsgefokusheid hul nie vandág laat leef as die dag van sy verskyning, “vandag as julle sy stem hoor” (Heb. 3:7), nie. Jesus was baie beslis hieroor: “Kwel julle dus nie oor môre nie …” (Matt. 6:34). Inderdaad: “The LORD’S mercies … are new every morning” (Klaagl. 3:22-23). Ons moet mekaar hieroor herinner en vermaan “so lank as dit vandag genoem word” (Heb. 3:13), anders sal ek en jy nie deel wees van die uitspeel van God se heerlike, ontvouende plan vir die aarde nie. Luk. 21:26 waarsku dat mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld gaan kom. Maar dit mag glád nie só wees met ons wat die dinge onderskei waar dit op aankom nie (Rom. 2:18). Ons moet in staat wees – soos die seuns van Issaskar – om met kundige insig die tye en seisoene te kan onderskei en dienooreenkomstig te weet wat om te doen (1 Kron. 11:32). Laat julle hart nie ontsteld wees nie, sê Jesus stééds (Joh. 14:1). “Hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.” (Joh. 16:33), en: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” (Luk. 12:32). Maak Jer. 29:11 vas in hierdie noodwendig turbulente tye van geboortepyne van ‘n nuwe bedeling: ” Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”
Dr. Tom Gouws