Dag 10

 

“Hy sal (jou) leer aangaande die weg wat (jy) moet kies.” (Ps 25:12, OAV)

Om op God se roepstem te antwoord, eis van jou ‘n bepaalde keuse. God sê vir jou: “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe.” (Deut 30:19). 

Daar is reeds vroeër in een van die dagstukke genoem dat keuse sentraal staan in die evangelie van die Koninkryk van God. Om die omvang daarvan te verstaan, moet ons teruggryp in die geskiedenis wat voor tyd plaasgevind het.

Die geskiedenis van die wêreld het gestalte gekry deur die verdeling van die Koninkryk van God en die totstandkoming van die koninkryk van duisternis. Lank, gelede, voor tyd bestaan het, was daar net een koninkryk waar die Skepper en die Onderhouer daarvan, as Koning van sy Konininkryk, regeer het. In hierdie Koninkryk was daar ‘n menigte geestelike wesens: engele, gérubs, en so meer, wat verskeie verantwoordelikhede gehad het (waaroor min in die Bybel van vertel word).

Die “leier” of voorloper van hierdie geestelike wesens, die een met die meeste gesag en heerlikheid (Ese 28:13-14), was ‘n magtige, ontsagwekkende engel met die naam Môrestêr. Hy het sy naam gekry vanweë die geweldige hoeveelheid lig wat hy uitgestraal het. In die geestelike realm is lig altyd ‘n kenmerk of waarmerk van die heerlikheid van God – God is lig, en geen duisternis is in Hom nie (1 Joh 1:5). Hierdie geestelike wese word in Ese 28:12 genoem “die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid”. 

Hy was veral verantwoordelik vir twee sake in die Koninkryk van God. Hy moes al die  geestelike wesens in lof en aanbidding voor die troon van God bring. En dan was hy ook verantwoordelik vir die handeldryf wat daar plaasgevind het (Ese 28:5 &16).

Maar hierdie wese het hoogmoedig (Ese 28:2,5 & 17) geword: “En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God … Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!” (Jes 14:13-14). Deur Satan se keuse het hy gesondig (Ese 28:16). Ook ek en jy kies hierdie keuse van Satan (Rom 3:11-17) en word deur “die sonde … verlei en daardeur gedood” (Rom 7:11). 

 . 

  • Sela: Bedink en bid oor die sin hierbo en oor Jos 24:22 en die geweldige implikasies daarvan.
  • Lees: Gen 10: Ps 10; Joh 10. 
  • Memoriseer: Joh 10: 10 & 27. 
  • Vir dieper delf:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: The world according to God – tydlyne.