“(J)ou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jes 30:21, OAV).
In die Skrif wat ons gister gememoriseer het, noem Christus Homself: die Weg, die Waarheid en die Lewe (Joh 14:6). Die pad wat jy gekies het om saam met God te loop, word die Weg genoem. Sy Naam is Jesus. Johannes die Doper het uitgeskree: “Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!” (Mat 3:3) Die boek Handelinge gaan grootliks oor die dade (=acts), die handelinge, van mense wat gekies het om op hierdie Weg te loop, en diegene wat gekies het om nié daarop te loop nie. Daarom is die eerste Christene die “mense … van die Weg genoem” (9:2). Alle gelowiges moes derhalwe “onderrig ontvang in die weg van die Here” (18:25) – die weg van God moet “uitgelê” (18:26). Ongelowiges is soms goed bekend daarmee (24:22), maar as jy nie daarop wandel nie, bring die Weg verharding (19:9) by mense mee; laat dit groot opskuddings plaasvind (19:23); dit laat mense kwaadspreek daaroor (19:9); word vervolg (22:4); word ‘n sekte genoem (24:14). Die Weg bring jou noodwendig tot handeling – jy kan nooit neutraal wees daarteenoor nie. Mat 12:30 spel dit uit: “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.” Dis by hierdie Weg wat Saulus aangekom het nadat hy dit as ywerige godsdienstige vervolg het. Daarom is dit so mooi dat – nadat die skille van sy oë afgeval het – hy hom in Reguitstraat bevind (Hand 9:11)!
In die Nuwe Jerusalem, ten spyte van haar enorme afmetings, sal daar net een straat wees (Open 21:21) – hierdie straat se Naam is Jesus.
Na jou wedergeboorte begin jy stap op hierdie pad van “suiwer goud soos deurskynende glas”. Goud is in die Skrif altyd die simbool van openbaringskennis (later meer daaroor). Kom koop by Hom goud (Open 3:18), sodat jy Hom kan bewandel.
Godsdienstigheid “is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr 14:12). Nét Christus as die “nuwe en lewende weg” (Heb 10:20) plaas jou op die Weg op pad na die Waarheid en die Lewe. Daarom, soos Heb 12:13 dit mooi sê: “maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word”. Kom, kom Reguitstraat toe.
- Sela: Bid oor Ps 15 en vra die Heilige Gees wat in jou lewe nog reguit en gesond moet word.
- Lees: Gen 15; Ps 15; Joh 15
- Memoriseer: Gen 15: 6; Joh 15:7 & 16
- Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering oor: Word ‘n pyl van God wat trefseker sy teiken tref.