BYBELBAAK 41
Hierdie is deur die eeue heen ‘n strikvraag, en die antwoord het groter en belangriker implikasies as bloot om Bybelse familie uit te lê. In die geslagsregister van Jesus in Luk. 3:23-38 word Sy voorgeslagte terugherlei tót by Adam. Om Jesus se lewe en sterfte én opstanding as realiteit te aanvaar, moet ons dus ook terugwerkend in geskiedenis vir Adam as die fisiese eerste mens aanvaar. Daarmee saam is Hand. 17:26 ‘n sleutelskrif: God “het uit EEN bloed AL die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het”. Daar was dus GEEN ander mense op aarde behalwe die nageslag van Adam nie. Eva word dan ook tereg “die moeder van alles wat lewe” (Gen. 3:20) genoem. Kain en Abel was hierdie eerste ouerpaar se eerste twee seuns. Die Bybel sê nie hoe oud Kain was toe hy Abel doodgemaak het nie (Gen. 4:8), maar aangesien hulle albei landbouers was, was hulle heel moontlik albei volwassenes, want dit gebeur met nadruk “ná verloop van tyd” (Gen. 4:3). Die Bybel sê voorts ook nie spesifiek wie Kain se vrou was nie. Die enigste moontlike antwoord is dat Kain met sy suster, of met een van die kleindogters van Adam en Eva, getrou het. Nadat Kain vir Abel vermoor en toe gevlug het na die land Nod, aan die oostekant van Eden, was hy reeds verbind met hierdie vrou. Gen. 4:16 sê nié dat hy haar dáár gekry het nie, bloot dat hulle daar seksuele gemeenskap gehad het wat tot die geboorte van sy eerste seun gelei het. Aangesien Adam en Eva die eerste (en enigste) menslike wesens op aarde was, sou hul kinders dus geen ander keuse hê as om met mekaar te trou nie. Op daardie stadium was die gene-poel baie suiwer; boonop was inter-familiêre huwelike nie verbode nie – dit het eers met Moses 2500 jaar later ‘n wet geword (Lev. 18:6-18). Maar wie dan was hierdie dogter of kleindogter van Adam en Eva met wie Kain getrou het? Adam en Eva het ná Kain en Abel ‘n seun genaamd Set gehad, en daarna nog ander kinders (Gen. 5:3-4) in hulle lang en vrugbare leeftyd. Volgens die betroubare Joodse historikus Josefus het Adam en Eva nog 33 seuns en 23 dogters gehad! Konserwatiewe projeksies meen dat daar soveel as 32 000 mense geleef het teen die tyd dat Abel gesterf het. Die feit dat Kain vir sy eie lewe gevrees
het nadat hy Abel vermoor het en gevlug het (Gen. 4:14), dui daarop dat die uitgebreide gesin van Adam en Eva (benewens die ander kinders, moontlik ook kleinkinders en agterkleinkinders) uit woede hom wou doodmaak. Slotsom? Die Amplified Bible spel dit in Gen. 4:17 kortom uit wie Kain se vrou was – sy was ook “one of Adam’s offspring”.
Dr. Tom Gouws