Dag 20 en 21

 

“een Here, een geloof, een doop” (Efes 4:5, OAV)

Jesus het deurgaans geweldig klem gelê op die belangrikheid van eenheid. In Joh 17: 20-23 bid Hy dit tot sy Vader: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het … sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het.”

Nie net moet daar ‘n sigbare eenheid wees tussen die dissipels van Christus nie, hulle moet ook ten opsigte van hul oortuigings een wees. Dis die enigste manier hoe die wêreld sal weet dat God vir Jesus gestuur het. In Efes 4:4-6 spel Paulus uit dat daar “‘n ernstig strewe (moet wees) om die eenheid … te bewaar. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.”

Hierdie eenheid is die oorspronklike bedoeling van God, sy volmaakte wil, die onvervalste oorspronklike.

Die Bose se primêre funksie is om te mislei (2 Tess 2:10, NV), want deur onkunde (Efes 4:18) en gebrek aan kennis gaan baie mense verlore (Hos 4:6). As Satan daarin kan slaag om mense te mislei en hulle die misleiding as die waarheid begin voorhou en navolg, is hulle op ‘n dwaalweg (1 Tim 6:21). 

Paulus het geweet dat die waarheid verdraai word as mense dit tot oorlewering maak (Kol 2:8). Christus het dit sterk uitgespel – in Mat 15:6 sê Hy: “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.” Hy vra dan tereg ook: “Waarom oortree julle ook die gebod van God ter wille van julle oorlewering?” (vers 3).

Vir eeue lank aanvaar mense bloot net die oorleweringe van voorgangers as die waarheid en bely dit “as die volkome leer van die saligheid”. Waarom ondersoek ons nie meer die Skrifte om te bepaal of dit wat ons geleer word en glo enigsins die waarheid is nie? 

God is besig om sy Bruid se oorgelewerde tradisies (haar rimpels) en haar ongeregtighede (haar vlekke) te verwyder (Efes 5:27) deur ons te reinig met die waterbad van sy woord (vers 26). Só word die Baäls uit ons mond verwyder (Hos 2:15-16).

Een van die belangrikste oorleweringe van die eeue wat die eenheid van gelowiges ernstig uitmekaar geskeur het, is die leer van die doop. Na die Reformasie is miljoene mense doodgemaak omdat hulle geglo het in die doop van gelowiges, eerder as in die besprenkeling van babas, ‘n lering wat die Protestantisme in ‘n groot mate onkrities oorgeneem het van die Rooms-Katolieke kerk, wat dit op hulle beurt weer oorgeneem het van die pagan-godsdiensrituele van Baälaanbidding. Daar is geen Bybelse gronde vir hierdie afgodspraktyk nie.

Efes 4:5 spel dit onteenseglik uit: “een Here, een geloof, een doop”.

Ons het reeds in Dag 12 duidelik gesien dat wedergeboorte die enigste wyse is waardeur jy in die koninkryk van God kan ingaan. Wedergeboorte volg op bekering, iets wat babas onmoontlik kan doen. Om ‘n baba te besprenkel, is dus totaal onsinnig en het ‘n hele teologie versin om dit te probeer regverdig. (Lees Venter en Gouws se Die verbond en die vervalsing om hierdie misleiding in sy teologiese omvang te besef.)

Wedergeboorte vind plaas in twee ‘prosesse’, by gebrek aan ‘n beter woord. In Joh 3:5 sê Jesus: “as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie”. Die water verwys nie na iets natuurlik (soos bv “vrugwater”) nie (sien Joh 3:6). Na bekering volg doop met/in water, onderdompeling (volgens die Griekse woord baptizó (“fully wet” – Strongs). Die gehoorsaamheidsdaad van doop is ‘n proses waarin jy deur God saam met Christus begrawe word deur die doop in die dood (Rom 6:4) en deur dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het (Rom 8:11), sal jy uit die water opstaan in die opstandingskrag van Christus. Met die doop sterf jy en staan jy op in Christus. Daarom is dit nie vreemd dat daar in Tit 3:5 gesê word dat ons gered word deur “die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” nie.

1 Joh 5:8 stel dit onomwonde “daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig”. Aldrie hierdie “dopings” is verseëlings van jou wedergeboorte: bloed, water en Gees.

Ons kan nie die belangrikheid van die doop van die gelowige onderskat nie. Om hierdie rede is die doop miskien die grootste verdelende faktor in die geskiedenis van die Christendom. Mark 16:16 stel dit onomwonde duidelik:  “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word.” As jy nog nie tot daardie punt van gehoorsaamheid gekom het nie, is dit vandag die dag waarop jy gehoorsaam moet word. “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.” (Heb 4:7). 

  • Sela: Vir ‘n historiese perspektief op die babatjiedoop, bestudeer die aangehegte artikel: ”Infant baptism” (verkry van www.gospelcenterchurch.org/Infantbaptism.html). Die vraaggesprek met prof. Jannie Louw wat Krause Venter gevoer het (opgeneem in Venter & Gouws se Die verbond en die vervalsing, pp. 131-147) is geweldig informatief omdat Louw beskou word as die wêreldkenner op die gebied van Nuwe-Testamentiese Grieks asook die geskrifte van die eerste kerkeeu. Vir ‘n teologiese tameletjie, bedink in die lig van wat hierbo geleer is, hoe ‘n mens 1 Kor 15:49 moet verstaan, ook dalk 1 Pet 3:21.
  • Lees: Gen 20 & 21: Ps 20 & 21; Joh 20 & 21.
  • Memoriseer: Joh 20:29.
  • Vir dieper delf:  Luister na Tom Gouws se cd-lering: “Skepping en herskepping.”