Dag 27 en 28

 

“Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder ‘n seël; en die dinge kry gestalte soos ‘n kleed.”(Job 38:14, AOV)

Die Ou-Testamentiese hoëpriester is op baie bepaalde en besondere wyse geklee (Eks 28), en soos baie ander Ou-Testamentiese voorbeelde, is dit ook in Christus vervul. Die Woord sê Christus het in die nuwe verbond ons Hoëpriester geword (Heb 3:1), en dat alle gelowiges “‘n koninklike priesterdom” (1 Pet 2:9) vorm. Dis nie meer soos in die ou verbond dat net sekere families (soos dié van Äaron) of stamme (soos dié van Levi) priesters kon wees nie, maar dat elkeen wat wedergebore word ‘n priesteramp beklee (1 Pet 2:5). Ons glo dan, soos Ortiz dit stel, in die nuwe verbond in “the priesthood of all believers”. Omdat Hy as hoëpriester in alle opsigte aan ons gelyk geword het (Heb 2:17), word daar die appèl gemaak op ons om in alle opsigte voortdurend meer en meer aan Hom gelyk te word (Rom 8:29), sodat ons eendag as Hy kom, in alle opsigte aan Hom gelyk sal wees (1 Joh 3:2). 

Deel van hierdie ontvouende vereenselwiging is dat ons dan met Christus beklee moet word (Rom 13:14). Hierdie bekleding neem ‘n aanvang as jy jou laat doop: “want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee” (Gal 3:27). Die Hoëpriester se klere is dus die natuurlike heenwysing na geestelike beginsels/bekleding in die nuwe verbond.

Uiteraard is bekleding nodig omdat ons eintlik na wese naak staan voor God – ons besef heel dikwels nie dat ons naak is nie (Open 3:17). Nadat Adam en Eva gesondig het, was hul heel eerste gewaarwording dat hul naak is (Gen 3:10-11). God het toe reeds die eerste inisiatief gegee om hul naaktheid te verberg deur ‘n onskuldige dier dood te maak en dié se vel te vat om hulle te beklee (vers 21). Insgelyks het die ganse mensdom  gesondig en derhalwe ontbreek dit ons aan die heerlikheid van God (Rom 3:23), daardie bekleedsel van God (Ps 104:2) wat ons gehad het in die paradys. Daarom is daar hierdie geweldige behoefte dat ons “uit die hemel oorklee … word, as ons ten minste gekleed en nie bevind sal word nie” (2 Kor 5:2-3).

Die naaktheid van Adam en Eva voor die sondeval (Gen 2:25) word beskryf in  die Hebreeuse woord “ârôm”, wat beteken om met iets te bedek. In Gen 3:7, na die sondeval, word daar weer die begrip ‘naak’ gebruik, maar nou is dit die woord “êrôm”, wat beteken: “alles weg; sonder enigiets”. “Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.” (Open 16:15). Daarom dat God ons uitnooi in Open 3:18: “Ek raai jou aan om van My te koop … wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie.”

Die eerste kleed wat die priester moet aantrek, was ‘n lendekleed van wit linne, noem dit maar sommer in ons taal ‘n knielengte-onderbroek. Dit is die “garments of salvation”, waarvan  Jes 61:10 praat, in ons terme: bekering. Dis ‘n daad waar jy uit vrye keuse iets van die grond af optel en van onder (=van die natuurlike realm) aantrek. As jy dus die keuse maak vir God en jou bekeer, tel jy die onderbroek van God se verlossing en redding op vir jouself en jy word gered. Jou skaamte is onmiddellik bedek!

Jes 61 praat voorts dat jy dan met “robes of righteousness” beklee word. Jy steek jou hande in die lug op (=oorgawe) en die kleed word van bo (=uit die geestelike realm) oor jou geplaas. Hierdie kleed is die wedergeboorte. In die oorspronklike taal beteken wedergeboorte letterlik: van Bo gebore wees. Hierdie kleed, wat jy verkry deur gebore te word uit water en gees (Joh 3:5), is die volledige kleed wat nodig is om ‘n bruilofsgas te kan wees (Mat 22:11-12) – daarsonder het nie jy toegang tot die Koninkryk van God nie.

Die derde kleed wat die priester kry, wat oor die wit tweestuk pas, is ‘n koningsblou kleed met pers garingdraad daarin geweef wat ook bo van oor die priester geplaas word en die skouerkleed (“efod”) genoem word. Dit het daarop gedui dat die persoon afgesonder is vir God, en simboliseer die doping met die Heilige Gees, dit wil sê ‘n bekleding met die Heilige Gees.

Aan die soom van die kleed word alternerend klein klokkies en granaatjies gehang. Die granaatjies dui op die vrugte van die Gees (opgenoem in Gal 5:22), wat afgewissel word met die klokkies, wat ‘n heenduiding is van die gawes van die Gees (1 Kor 12 en 14). Interessant genoeg, as ‘n persoon net in gawes funksioneer, het hy ‘n “klinkende metaal of ‘n luidende simbaal” geword – gawes moet uitgebalanseer word met die vrugte van die Gees. ‘n Boom word immer aan sy vrugte geken, en nie aan sy gawes nie (Luk 6:44). Dis ook insiggewend dat byvoorbeeld Hoofstukke 12 en 14 van 1 Korinthiërs word van mekaar geskei deur Hoofstuk 13: die liefde, ‘n mooi demonstrasie van Gawe → Vrug→  Gawe.

In Heb 6:2 word die fondamente van die Christelike leer genoem, en die tweede onderwerp wat genoem word, is: “the doctrine of baptisms” (KJV). Die OAV vertaal dit verkeerd as “die leer van die doop”. Daar is meer as een tipe doop ter sprake en ons het die eerste twee tipes dope hier aangeraak: die doop met water en die doop met die Heilige Gees. Albei is simbolies hier in die klere van die hoëpriester gedemonstreer gesien. Dieselfde doktrine word weer en weer op ‘n verskeidenheid wyses geïllustreer.

As daar in Job 38:14 staan: “Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder ‘n seël; en die dinge kry gestalte soos ‘n kleed,” is dit presies wat met bekering, wedergeboorte, doop met water en doping met die Heilige Gees met jou gebeur. Jou vleeslike natuur (=stof is jy, klei: Gen 2:7;3:19; Ps 103:14) word verander en kry ‘n nuwe gestalte – so word jy beklee met Christus (Kol 3:10).

  • Sela: Gebruik Ef 4:24 en Kol 3:10-14 om hierdie saak van bekleding met Christus op ‘n persoonlike vlak met God deur te werk.
  • Lees: Gen 27 & 28; Ps 27 & 28; 2 Joh 1 & 3 Joh 1
  • Memoriseer: Ps 27:11
  • Vir dieper delf: Luister na die cd-lering van Timothy Prince Olesegun: Become a priestly king in your family – a Biblical model.